BESTEMMINGS SE HARTSDINGE…

0

Wanneer die mense-massas wegkwyn na waar hulle vandaan kom, word die plek waar jy jou bevind lewendig en jou siel versadig. Dis dikwels die klein dingetjies wat die grootste indruk maak wanneer ‘n mens reis. Soms moet ‘n mens dit soek, maar gewoonlik gebeur dit sommer vanself.

Jy’s nie ‘n worsmasjientoeris nie. Jy wil die hart van elke stad of dorpie uitsnuffel. Jy eet by die restaurante waar Europese spyskaarte skoon Chinees lyk, en jy is die een wat iewers in die winter by ‘n hawe in Kopenhagen na ‘n sauna sessie… As dié jou beskryf, sê ek vir jou welkom en lees gerus verder, want vandag praat ons hartsake.

My plan was om vir drie maande deur Europa te reis (agt lande en veertien bestemmings), maar nadat ek vir die eerste keer letterlik geskouer is tydens ‘n toeriste-skrumsessie in Rome, wou ek die vlaktes invaar. Net daar het ek besef my vreugde lê nie tussen die massas nie. Moet my nou nie verkeerd verstaan nie, dis beslis die moeite werd om die hordes toeriste by die Mona Lisa’s en die Colosseums aan te durf, maar om elke dag deel te wees van dié gestamp en gestotery is nie goed vir die gees nie. Volgens my ervaar ‘n mens buitendien geen stad se hart op die toeristebussie nie.
Wanneer ‘n mens reis, is daar ook ander dinge – kleiner of minder bekende dinge – wat ‘n plek se hart openbaar. Natuurlik help dit as ‘n mens tyd het, want dís wanneer ‘n plek onder jou vel kan inkruip en sy geheime kan deel. Partykeer moet ‘n mens regtig hard soek, en ander kere gebeur dit sommer vanself.
Ek moet erken, om van hierdie ervarings uit te sonder, is amper soos om te kies vir wie van jou kinders jy die liefste is. Nietemin, ek het dit gedoen, en hier is vyf van my besonderse hart-ervarings…

TRASTEVERE, ROME

straat toneel

Dis waar wat hulle sê oor Italië. Daar staan oral bromponies en mini’s langs die pad geparkeer

Aandtonele in Trastevere. Hiér het ons kom uitspan na ‘n dag van rondloop in die antieke stad.

Was dit nie vir Airbnb nie, het ons nooit hierdie juweel van ‘n plek ontdek nie. Trastevere is ‘n lewendige en tipies Italiaanse woonbuurt, net buite die middestad. Dis asof mens ‘n ander wêreld betree, ‘n wêreld van klein restaurantjies in nou straatjies tussen hoë geboue vol rankplante, en onderklere wat tussen die vensters hang.

Die mense se passie en openhartigheid is bekoorlik. Dis hier waar die Italianers uithang, weg van die klikkende kameras en oorweldigende mense-massas naby die gewilde bestemmings. Bedags het ons die stad verken, en saans is ons terug Trastevere toe, of soos ons later begin sê het, na “ons plek” toe. Hier het ons dan by ‘n tafel op die straathoek gaan sit, ‘n bottel wyn bestel en die Italiaanse aandtonele ingedrink asof ons nooit weer so iets gaan ervaar nie. As jy die mense wil ervaar, maar nie tyd het om die stad te verlaat nie, kom bly hier! Dis die naaste wat mens kom aan die klein-dorpie Italiaanse passie wat jy in Suid-Afrika sien op die kassie.

MÜNCHEN, DUITSLAND

‘n Branderplank-ryer toets die water in München, Duitsland.

Dié stad is warm, gasvry, glansryk en feestelik. Dis moeilik om ‘n klein bordjie kos op te spoor en bier soos dié kry ‘n mens nou maar eenmaal nêrens anders nie. Bedags is daar heelwat indrukwekkende dinge om te sien, maar niks kon my voorberei op wat ek in die Engelse Tuine sou teëkom nie…
Ek het die stad verken saam met ‘n Duitse vriendin. Dié sê toe sy het vir my ‘n verrassing. Ons loop verby museums en katedrale en dit maak nie saak hoe hard ek probeer nie – sy swyg oor die eindbestemming. Ons gaan ook nie by die tuine in nie, ons loop al langs die heining af. ‘n Groep mense staan op ‘n brug en staar verwonderd ondertoe. Ons mik daarheen, en toe word ons ook vasgenael deur wat ons sien.
Aan weerskante van die rivier staan mense in waterpakke met branderplanke onder die arms. Op ‘n spesifieke plek vloei die water juis só dat dit ‘n permanente golf vorm, wat ideaal is vir branderplank ry. As die een van sy branderplank afval, is die volgende een in die water en voer behendig toertjies oor die breedte van die riviertjie uit. Ek sou nooit kon raai dat so iets in die middel van dié stad gebeur nie. Uiteindelik gaan dit toe oor meer as bier en partytjie hou… As my vriendin my nie gewys het nie, sou ek dit nooit geweet het nie. Gelukkig weet jy nou hiervan, so as jy in München is, gaan soek die tuine en vang ‘n brander…

KOPENHAGEN, DENEMARKE

Nyhavn, een van Kopenhagen se bekendste en gewildste havens.

Dis gevaarlik om enige stad of bestemming te onderskat. Dit slaan dalk net jou voete onder jou uit, soos wat Kopenhagen met my gemaak het. Ek het ‘n stukkie van my hart verloor in die Runde Taarn wat gebou is rondom Denemarke se nulpunt. Die toring is opgerig in 1642, en is aanvanklik gebruik vir astrologie. Later was dit die stad se biblioteek en vandag is dit ‘n museum en kunsgallery.

Ons maak reg om in die kanaal te spring voordat ons gaan bak in die Sauna.

Natuurlik het ek daarop aangedring om die mense se leefwyse te ervaar, en so besluit ek en my Deense vriendin ons gaan sauna by La Banchina. Dit was teen die einde van Oktober, en terwyl mense met baadjies en serpe rondloop in temperature van minder as 5 grade, het ons bikinis en al van die kaai af in die yskoue water gespring. Mens voel soos ‘n klip wanneer mens die water tref. Dit is, om dit mooi te stel, m*!# koud. Alles in jou liggaam versteen, jy sink byna na onder, en terwyl jy jou ledemate dwing om iets te doen, hoop dat jy nie gaan sterf in Kopenhagen nie. Dan hardloop mens soos ‘n besetene na die sauna toe. Die tweede keer is beter, en na die derde keer wil mens nie ophou nie.

N.S.
Hier, by Lan Bachina, het ek ook die beste appelnagereg van my lewe geëet. Ek weet tot vandag toe nie wat ‘n mens dit noem nie, maar dit was lieflik en as ek kon, was ek al gister terug om meer te kry.

Die Sauna by La Banchina in Kopenhagen kyk uit oor dié hawetjie.

SUÈVRES, FRANKRYK

Genealogie is lieflik. Die familielid wat ons familie se geskiedenis nagevors het, ook. Dis ‘n lang storie, maar ek weet my Franse voorouers was Hugenote wat uit die piepklein dorpie Suèvres gevlug het Suid-Afrika toe. Phillipe Fouché is gebore op die plaas La Brûlée in sentraal Frankryk, en toe ek dít hoor, moes eenvoudig gaan kyk of die plek nog bestaan. Nóg ‘n lang storie verder, is ek toe vir ‘n naweek Suèvres toe om ‘n Franse joernalis met ‘n voorliefde vir geskiedenis, Bernard Fauquembuerge, te ontmoet. Hy was so te sê my persoonlike gids vir die naweek. Die plaas bestaan nog, asook die huis waarin my voorvader in 1652 gebore is. Die mense wat vandag daar woon, het ons toegelaat om in te gaan en alles wat die gebou uniek maak van hoek tot kant te bekyk. Ek was ook by die kerk waarvan hy ‘n lidmaat was. Dis gebou in die jare 700, bo-oor die oorblyfsels van ‘n Romeinse tempel.

La Brûlée, die plaashuis waar my voorvader, Phillipe Fouché in 1652 gebore is.

Die kerkgebou van die destydse Saint Lublin gemeente, waarvan my voorgeslagte lidmate was. Dit is vandag in private besit.

Die dorpie en die mense lyk kompleet asof hulle uit ‘n Franse kunsfliek geklim het. Dis oral groen, die huisies is oud, die paaie is van keistene en die mense loop as’t ware baguette-onder-die-arm in die strate rond. Na die opwinding van die dag, het ons aandete geniet saam met ‘n paar van Bernard se vriende. Natuurlik was daar wyn, kaas en Franse bekgevegte oor cuisine. Kan mens vir meer vra?

BERLYN, DUITSLAND

Oorblyfsels van die Berlynse muur in Potsdamer Platz, Berlyn

In die somer van 2009 het ek die son sien sak oor Berlyn. Ons was op die Reichstag se dak, en op daardie oomblik het ek gedink ek gaan nooit weer iets só mooi sien nie. Ek was ‘n hoërskool uitruil student, en het ‘n maand lank hier gewoon saam met ‘n gasgesin. Ek onthou hoe ons destyds saam met die hond gestap het op die voormalige grens tussen Oos- en Wes Berlyn. So, met die terugkomslag het ek een doel voor oë gehad: ek moes weet hoe dit was toe die muur daar was, en wat gebeur het die dag toe dit geval het.
So is ons toe na die muur toe (dit wat nog daarvan oor is) en Katrin, wat in Wes Berlyn gebore is, vertel my van die dag toe die muur geval het. Hoe grys dit was aan die ander kant, hoe die DDR (Duitse Demokratiese Republiek) bykans onveranderd gebly het NA die Tweede Wêreldoorlog se verwoesting, en hoe almal piesings gekoop het, omdat hulle dit nooit geken het in Oos Berlyn nie…

Wanneer mens stories hoor soos dié, en plekke besoek soos dié, kan mens nie on-aangeraak bly nie. Dís hoe mens ‘n plek se hart leer ken. Dís wat dit beteken om te reis.

Deel.

Oor die Outeur

Marlinée is ‘n vryskut joernalis met ‘n passie vir klank en reis. Jy kan haar stem daagliks hoor op RSG se nuusprogramme Monitor, Spektrum en Naweek Aktueel, asook oor die naweek op Reis Sonder Grense. Na vier jaar op kantoor, het sy besluit om haar tas te pak en vir negentig dae deur Europa te reis, en hier by Eensgesind deel sy haar ervarings en nuttige wenke met ons lesers. Sy het studeer aan die Universiteit van Johannesburg, waar sy haar honneursgraad in joernalistiek voltooi het.

Skryf jou repliek hier