Dianke in China – Verken die wêreld buite jou gemaksone!

2

Voordat ek die besluit geneem het om ‘n pos as ‘n ESL (English as a Second Language) onderwyser in Beijing, China te aanvaar, het ek baie navorsing gedoen oor wat ek kan verwag. Maar niks kon my egter voorberei vir die realiteit wat op my sou wag nie. Die eerste paar weke was werklik vir my ‘n eye opener. Ek moes leer om vinnig  in my nuwe omgewing aan te pas. Dit was nie maklik nie, maar gedurende hierdie tydperk het ek so baie dinge van myself geleer. Ek het myself onderskat en besef ek is baie sterker, fisies en emosioneel, as wat ek gedink het.

 

Engelssprekendes en Engels in die algemeen is so skaars soos hoendertande. Alle tekens op geboue, straatname, aanwysings en spyskaarte is in Chinees.

Die taalgrens is beslis een van die grootste uitdagings in my dag-tot-dag bestaan in China. Engelssprekendes is so skaars soos hoendertande. Wanneer ek iemand Engels hoor praat, raak my hart sommer bly. Na vier maande in Beijing het my Chinese kollegas vir my ‘n hele paar woorde, uitdrukkings en sinne geleer. Dit maak my daaglikse bestaan hier darem nou effens makliker. Maar die eerste paar weke het ek regtig verlore gevoel. Ons besef dit nie elke dag nie, maar dit is so ‘n groot seëning dat jy in jou eie land met mense kan kommunikeer en mekaar kan verstaan. Hier voel ek soms totaal en al afgesny van almal. Niemand verstaan my nie en ek verstaan hulle nog minder. Diegene wat my ken, weet ek geniet dit om met mense te gesels, hetsy kassiere, petroljoggies, skoonmakers, kelners, taxibestuurders of wie ook al my pad kruis. Soms wil ek so graag met die mense hier gesels, maar ek kan nie. En dit frustreer my. Mandaryns is ‘n moeilike taal om baas te raak, maar wat ek wel besef het, is dat ‘n glimlag universeel is en vriendelikheid kos niks nie.

 

Jou persoonlike spasie word veral binnegedring op die besige moltreine in Beijing, China. Die treine is gewoonlik altyd vol, maar tydens spitstyd in die oggende en aande is daar soms nie eers plek vir ‘n muis op party treine nie.

Daar is ook baie kultuurverskille tussen Suid-Afrikaners en Chinese. Indien jy van plan is om China te besoek of hier te kom werk, is daar ‘n paar goed wat jy moet weet. Hoewel China in soveel opsigte ontwikkeld is, is daar baie gebruike wat nie so ontwikkeld voorkom nie, meestal omdat dit al vir eeue deel van hulle kultuur is. Een van daardie gebruike is dat mense sommer enige plek op die grond sal spoeg en ouers sal in die openbaar kleuters se klere uittrek en hulle sommer op die sypaadjies of in ‘n asblik hulle besigheid laat doen. Westerse toilette is ook skaars. Hier moet jy maar tevrede wees met hurktoilette (squat toilets) wat nie altyd baie prakties en gemaklik is nie, maar dalk meer higiënies is. Maak seker jy het altyd sneesdoekies en ‘n ontsmettingsmiddel vir jou hande byderhand.

Die Chinese het geen respek vir ander se persoonlike spasie nie. Mense gaan aan jou vat en aan jou stamp, veral gedurende die besige tye in winkelsentrums of by die moltreine. Dit is egter altyd belangrik om te onthou dat net omdat iemand iets op ‘n ander manier as jy doen, beteken nie jy is reg en hulle is verkeerd nie. Ons moet ander se kultuur en gebruike respekteer. Ek is ‘n besoeker in hulle land, dus om my neus op te trek of ander skeef aan te gluur omdat ek nie met iets saamstem nie, sal uiters minagtend wees. Soos die spreekwoord lui: “When in Rome, do as the Romans do.”

Talle wanpersepsie bestaan natuurlik oor die kos in China. Chinese mense eet nie net rys en noedels nie. En nee, ek ly glad nie honger nie. Inteendeel, wanneer ek China eendag verlaat, gaan ek beslis tradisionele Chinese disse mis. Kom ons begin sommer met die wanpersepsie oor hondevleis. Dit is totaal en al verkeerd. Die restaurante bedien dieselfde vleis as die meeste Suid-Afrikaanse restaurante nl. hoender, skaapvleis, beesvleis, varkvleis, vis en verskillende seekosse. Hondevleis was nog nooit as ‘n opsie vir my by enige restaurant aangebied nie. Jy sal dit egter in die agterstrate en by die swartmark vind, soos wat ʼn mens enige soort slegte goed regoor die wêreld in dié soort gebiede sal kry.

Tradisionele Chinese “hot-pot” in Beijing, China.

 

Tradisionele Chinese geregte wat tussen vriende gedeel word.

Natuurlik is daar ook ander vleissoorte wat geëet word, waaraan ons as Suid-Afrikaners nie gewoond is nie. Dit sluit in duiwe, brulpaddas, vreemde visse en die ingewande en verskeie liggaamsdele van diere. Maar, net omdat ek dit nie wil eet nie, beteken nie dit is verkeerd nie. Dit is deel van die Chinese se kultuur en ek as buitelander en vreemdeling in hulle land moet dit respekteer. Ek geniet Chinese kos; dit word met ‘n groot verskeidenheid speserye voorberei en smaak altyd geurig. Ek gaan eet daagliks saam met my kollegas by ‘n ander restaurant in die winkelsentrum waar ek werk. Gewoonlik bestel ons ‘n paar disse en deel dit. Mense bestel selde hulle eie gereg by ‘n restaurant.

 

 

Daar is altyd ‘n groot verskeidenheid tradisionele Chinese disse om van te kies by enige restaurant.

Die meeste van die disse smaak fantasties, maar ek hou ook nie van alles nie. Jy moet egter met ‘n oop gemoed bereid wees om alles te probeer. Beproef alles en behou die goeie. Dit is baie goedkoop om by die meeste restaurante in China te eet. Daar is geen diensfooi vir die kelner nie en klante drink meestal warm of koue water saam met hul ete. Soms sal iemand dalk ‘n bier of ‘n koeldrank bestel. As jy van plan is om China as ‘n Westerling te besoek, moet jy bereid wees om Chinese kos te eet. As jy elke dag Westerse kos soos McDonald’s®, pizza of KFC® wil eet, moet jy eerder by die huis bly. Westerse kos is baie duur in China. Die lewenskoste vir my as Westerling is oor die algemeen goedkoop. Kos, water en elektrisiteit is vir die meerderheid inwoners hier bekostigbaar. Huur in Beijing is egter redelik duur, omdat dit ‘n wêreldklas stad is en omdat so baie mense  vir werksgeleenthede hierheen stroom en die hoop vir ʼn beter lewe koester.

 

Nog ‘n vraag wat so baie mense vir my gevra het, is: “Waar gaan jy alles kry wat jy nodig het, soos klere, huisware, ens.?” Die antwoord? Hier in China, natuurlik. Ek is seker as jy mooi kyk na waar die meeste van jou huisware, klere, ens. vervaardig word, sal die etiket tien teen een aandui: Made in China. Nou-ja, ek is mos nou in China. Ek het toegang tot al daardie dinge en meer. Ek kon tot dusver alles kry wat ek nodig het. “Gaan die klere jou pas?” was ook ‘n vraag op talle se lippe. Ja! Ek koop wel die L- of XL-grootte, maar dit pas. En dit is mooi en gemaklik. Die winkelsentrums hier in Beijing is baie groot, selfs groter as die Mall of Africa in Midrand. Hulle spog met ‘n groot verskeidenheid klerewinkels, skoonheidswinkels en restaurante van verskeie internasionale handelsmerke asook salonne, reuse supermarkte, ysskaatsbane en ander vermaak vir oud en jonk.

‘n Gedeelte van die reuse Paradise Walk-winkelsentrum waar ek werk in die Chaoyang-distrik in Beijing, China.

 

Drie van my vriendinne by ‘n verjaarsdagpartytjie in Beijing, China.

‘n Suid-Afrikaner wat ‘n paar jaar in China gewoon het, het vir my gesê ek gaan twee keer huil. Die eerste keer sodra ek hier aankom en die tweede keer wanneer ek die land verlaat. Die waarheid is, ek het al verskeie kere tussenin ook gehuil. Meestal weens verlange na my mense en die bekende, maar soms ook weens frustrasie hier met die taalgrens, om inkopies te doen of om aanwysings te volg en dan steeds te verdwaal. Die eerste paar weke in China was moeilik en ‘n groot uitdaging en aanpassing, maar ek het dit oorleef en baie sterker aan die ander kant uitgekom. Ek het baie nuwe vriende van regoor die wêreld gemaak. My Chinese kollegas het my aanvaar en dadelik tuis laat voel. Vandag is ek ook ‘n hele paar opregte Chinese vriende ryker, ek kan al ‘n bietjie Chinees praat, ek kan met chopsticks eet en self die stad gaan verken om my daaglikse take te verrig. Ek het beslis die regte besluit geneem deur die onbekende aan te durf en in China te kom woon.

 

Ek het my verjaarsdag vroeër die maand saam met my nuwe vriende van regoor die wêreld gevier. Dit was werklik ‘n spesiale dag wat ek vir altyd sal koester.

In my laaste artikel van die reeks gaan ek kyk hoe Suid-Afrika en China van mekaar verskil. Ek gaan ook vertel wat ek die meeste van China geniet en wat ek die meeste van Suid-Afrika mis. Ek sien uit om nog meer van my ervarings met julle te deel.

 

Deel.

Oor die Outeur

Dianke Nel is tans 'n ESL (English as a Second Language) onderwyser in Beijing, China. Voordat Dianke in September 2017 na China verhuis het, was sy 'n radiojoernalis en vervaardiger vir RSG se nuus-en aktualiteitsprogramme, Monitor en Spektrum by die SAUK. Dianke het in 2011 'n BA-graad in Kommunikasie by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus verwerf. Sy het in 2012 haar BA honneursgraad in Ontwikkelingskommunikasie by dieselfde universiteit verwerf. Dianke is 'n trotse Potchefstromer met 'n liefde vir tale, letterkunde, mense en diere.

2 kommentare

  1. Ek het jou artikel gekry op fb – ‘n vriendin het jou inskrywing na my getag. My seun, Ruan, gaan vanaf 5 Februarie 2018 in Knysna ‘n maand lank Engels studeer, agtergrond “probeer” opdoen en alles en dan oor twee maande ook China toe. Dankie vir jou insig, vir jou mooi beskrywing van alles-en ja ons het regtig geglo hy gaan honde en katte eet! Dis inspirerend en tog is ons ook maar bang en die verlange sit vlak in ons keel, so naby dat my oe al biggel….

    Hou ons op hoogte

    Bosveldgroete

  2. Dit is ‘n groot plesier Wilna, ek is bly ek kan help! Die verlange is beslis ‘n bitter pil om te sluk, maar op die ou einde gaan alles okay wees. Dit is ‘n wonderlike ervaring en gelukkig is die tegnologie van so aard dat julle gereeld met mekaar kan gesels. Baie sterkte!

Skryf jou repliek hier