Dianke in China – Verken die wêreld buite jou gemaksone!

0

Ek woon nou al vir meer as vier maande in Beijing, China. Ek het my gemaksone en die bekende verruil vir ‘n land wat baie van Suid-Afrika verskil. Daar is baie Suid-Afrikaners wat ‘n totale wanpersepsie van China het. Ek het na van dié wanpersepsies in my vorige artikels van die reeks verwys. Om in China te woon het sy voor-en nadele. Daar is ook baie dinge in Suid-Afrika waarna ek verlang en ander dinge wat ek glad nie mis nie.

Kom ons begin by China en waarom ek dit geniet om hier te bly. Die Chinese is sulke vriendelike, gawe, opregte en hulpvaardige mense. Hulle is bereid om alles te los waarmee hulle besig is om jou te help, iets wat ek nie altyd in my eie land ervaar het nie. Dit ten spyte van die taalgrens. Hier het ek reeds soveel goeie vriende gemaak, elkeen met hul eie unieke persoonlikheid. My medewerkers, leerders en vriende is altyd vriendelik en mededeelsaam. Daar het nog nie ‘n dag by die werk verby gegaan waar iemand nie iets vir my gegee het nie, al is dit hoé klein. Dit laat my spesiaal en tuis voel in ‘n vreemde land. Dit is regtig die klein dingetjies in die lewe wat dit die moeite werd maak.

My vriende in China het my verjaarsdag werklik spesiaal gemaak met al hulle liefde en omgee.

 

‘n Bejaarde egpaar besoek Tiananmen-plein in Beijing, China.

China is ‘n kollektiewe land terwyl Suid-Afrika meer individualisties is. Bejaardes in China word met soveel respek deur almal behandel. Kinders en kleinkinders sien om na hulle ouers of ouma’s en oupa’s. Chinese mense is ook baie lief vir kinders en sal seker maak dat hulle alles het wat hulle nodig het en dat hulle gelukkig is. Ouers belê ook baie geld in hul kinders se opvoeding, veral wanneer dit kom by die leer van Engels en verskeie buitemuurse aktiwiteite. Daar is beslis eenheid onder die Chinese mense en hulle gee werklik om vir mekaar, maak bemoeienis met mekaar en ook met vreemdelinge. Die minderheid mense hier leef met die ingesteldheid van dit is elkeen vir homself. Hier gaan dit oor liefde vir jou medemens.

 

‘n Oupa neem sy kleindogter skool toe in Beijing, China.

Iets wat minder aangenaam is, is die hoeveelheid aandag wat gedurig op jou as Westerling gevestig word. Ek as ‘n lang Westerse vrou met ligte hare trek baie aandag. Ek word gereeld gevra om foto’s saam met mense te neem en mense staar gewoonlik na my oral waar ek gaan. Dit is egter nie met slegte bedoelings nie. Chinese mense bewonder Westerse mense, omdat ons so anders lyk en hulle nie daaraan gewoond is nie, selfs in die groter stede. My Chinese vriendinne sê altyd vir my ek het die mooiste, oop oë, die mooiste neus, pragtige hare en ek hoor gereeld hoe wit ek is. In die Chinese kultuur word wit as die mooiste velkleur beskou. Hoe witter jy is, hoe mooier is jy. Van die Chinese gesigwasmiddels bevat selfs bleikmiddels om hulle velle witter te maak. In my kultuur wil ons nou weer altyd bruiner wees en kan ons gewoonlik nie wag vir die somerson om ons bruin te brand nie.

Ek was bevoorreg om my eerste Kersfees in China saam met my broer, skoonsus en ander vriende te spandeer.

Wat ek die meeste van Suid-Afrika mis is, is my familie en vriende. Om enige tyd in my voertuig te kan klim en vir hulle te gaan kuier. Gelukkig is daar tegnologie sodat ons gereeld met mekaar kan kommunikeer, maar niks vergelyk met persoonlike kontak en veral ‘n stywe drukkie nie. Die feesseisoen was moeilik gewees. Dit is juis ‘n tyd vir familie en vriende om bymekaar te kom. Ek het verlang na die lekker Kersfees kos, die samesyn en die tradisie van hoe ons familie altyd Kersfees vier. Maar, my eerste Kersfees in China was tog lekker en ‘n spesiale ervaring. Ek is gelukkig dat my broer en skoonsus ook in Beijing woon, so ek kon die dag saam met hulle en my vriende spandeer. Wat ek gedurende die feestyd besef het, is dat dinge nie altyd dieselfde kan wees nie en dat verandering soms ‘n goeie ding is.

Kersfeesliggies by ‘n winkelsentrum in Beijing, China.

Die lug is blou en skoon op ‘n pragtige herfsoggend in die Chaoyang Park in Beijing, China.

Ek mis dit om na ‘n lang dag in ‘n warm bad te lê. Hier is die spasie beperk so elke woonstel het net ‘n stort. Ek mis my pa se braaivleis, my ma se kookkos, my ouma se kerrie en rys, goeie Suid-Afrikaanse wyn, ons troeteldiere en die vars lug in die platteland. Daar is lugbesoedeling in Beijing, maar dit is glad nie so erg soos wat mense dink nie. Die meeste van die tyd is die lug skoon en kan jy met gemak asem haal, maar daar is dae wat jy ‘n gesigmasker moet dra. Ek mis dit om in ‘n bekende supermark of winkel inkopies te doen waar ek die produkte ken. Hier is al die produkte se etikette in Chinees gedruk wat dit moeilik maak om te onderskei tussen iets so eenvoudig soos jogurt en melk.

 

Ek geniet my werk as ‘n ESL-onderwyser in Beijing, China.

Wat ek beslis nie van Suid-Afrika mis nie, is die misdaad. China is baie veilig. Ek kan vrou alleen laataand terug huis toe stap van die werk af sonder enige bekommernis. Ek hoef nooit oor my skouer te loer nie, want daar is niemand wat my wil kwaad aandoen, my selfoon of ander waardevolle items wil steel nie. Dit is omdat die inwoners weet die regstelsel is streng en dat hulle swaar gestraf sal word vir enige oortreding. ‘n Vriendin van my het selfs haar selfoon in ‘n restaurant vergeet en dit weer die volgende dag terug gekry. Ek voel veilig in my woonstel en slaap elke aand met ‘n geruste hart, waar ek in Johannesburg talle nagte bang was. Hier in China is daar ook bittermin mense wat vir geld bedel. Ek het in die vier maande wat ek hier woon nog net twee mense wat vir geld bedel teëgekom. Die eerste keer was dit ‘n bejaarde egpaar en die tweede keer ‘n gestremde man wat homself in die moltrein waarin ek was rondgesleep het. In Suid-Afrika is daar om elke hoek en draai iemand wat bedel. Hoewel ek graag almal sal wil help, is dit nie moontlik nie. Dit is net ‘n aangename verandering om in ‘n omgewing te woon waar mense nie die heeltyd iets van jou af wil hê nie.

Dit is wonderlik om die lewe deur iemand anders se oë te sien.

Die lewe is altyd beter wanneer ‘n mens lag. Omring jouself met mense wat jou gelukkig maak.

Wat ek die meeste van China gaan mis wanneer ek die land eendag verlaat, is die mense hier wat diep in my hart gekruip het. Die glimlaggies van my leerders en die opgewondenheid van my kollegas wanneer ek elke dag by die werk aankom. Ek gaan die kos mis, ek gaan die gerief van openbare vervoer mis en ek gaan die yskoue winter en die sneeu mis. Ek gaan beslis hier weg gaan met ‘n ander perspektief, ‘n verrykte hart en soveel wonderlike herinneringe. Daar is inderdaad ‘n hele wêreld buite jou gemaksone om te verken en ek is so bly ek het daardie moeilike, maar dapper besluit geneem om my vlerke te sprei.

Die mense hier in China het diep in my hart gekruip en ek sal hierdie herinneringe vir altyd koester.

Deel.

Oor die Outeur

Dianke Nel is tans 'n ESL (English as a Second Language) onderwyser in Beijing, China. Voordat Dianke in September 2017 na China verhuis het, was sy 'n radiojoernalis en vervaardiger vir RSG se nuus-en aktualiteitsprogramme, Monitor en Spektrum by die SAUK. Dianke het in 2011 'n BA-graad in Kommunikasie by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus verwerf. Sy het in 2012 haar BA honneursgraad in Ontwikkelingskommunikasie by dieselfde universiteit verwerf. Dianke is 'n trotse Potchefstromer met 'n liefde vir tale, letterkunde, mense en diere.

Skryf jou repliek hier