Dianke in China – Verken die wêreld buite jou gemaksone!

0

As ‘n jong 27-jarige vrou met ‘n baie goeie en gemaklike lewe, wonderlike familie en vriende en ‘n suksesvolle loopbaan tot dusver, het ek besluit om Suid-Afrika te verlaat en die onbekende aan te durf. Ek het bedank as radiojoernalis en vervaardiger vir RSG se aktualiteitsprogramme, Monitor en Spektrum. Ek het ‘n pos as ‘n ESL (English as a Second Language) onderwyser in China aanvaar want ek het net gevoel daar moet meer in die lewe wees as die alledaagse roetine waarin ek myself bevind het. Ek wou groei as mens, voor ek té gemaklik raak in my basiese bestaan.

Ek was besig om in ‘n gemaksone te verval. My voormalige uitvoerende regisseur, Foeta Krige, het die dag waarop ek bedank het, vir my gesê: “There is no growth in a comfort zone.” Maar, om van my gemaksone te ontsnap, sou egter ook sy nadele hê. Om alles en almal waarvoor ek lief is vir ‘n paar jaar agter te laat en myself in ‘n nuwe land te vestig, was nie ‘n maklike besluit nie. Ek was ook baie onseker oor wat die toekoms vir my in die vreemde sou inhou. Ek het wel geweet ek moes dit doen. Dit was nou of nooit. Ek het ook besef daar is ‘n groot verskil tussen om werklik jou lewe te leef en om bloot net te bestaan. Daarom het ek op ‘n vliegtuig geklim en ‘n nuwe hoofstuk van my lewensreis begin.

Op pad na China vanaf Suid-Afrika.

Ek was op soek na ‘n nuwe uitdaging en het dit beslis hier in China gekry. Ek is nou al vier maande in Beijing en is nie vir een oomblik spyt oor my besluit nie. In dié vier maande het ek so baie van myself en van ander wêreldburgers geleer. Elke dag bring sy eie unieke lewenslesse en dus groei ek as mens met elke les. Die land en sy mense het my hart gesteel en ek maak die beste van elke oomblik hier, want eendag gaan dit ook verby wees. Die verlange na my mense en die bekende lê daagliks swaar op my hart, maar ek is gelukkig in China.

 

Tiananmen-plein in Beijing, China.

My besluit het gemengde reaksies uit verskeie oorde ontlok. Die eerste vraag wat mense vir my gevra het, is: “Hoekom China?” My antwoord was: “Hoekom nie?” Ek het verskeie stories en oningeligte opinies oor China gehoor wat my vir seker sou afskrik en van plan laat verander indien ek my daaraan gesteur het. Let wel dat nie een van hierdie mense egter al in China was nie. Ek woon nou al langer as vier maande in Beijing en kan met alle eerlikheid sê dat talle Suid-Afrikaners ‘n totale wanpersepsie van China het. In hierdie reeks gaan ek van dié wanpersepsies uitwys en my persoonlike ervaring daaroor deel.

 

Beijing se Nasionale Stadion, ook bekend as die Bird’s Nest. Dié stadion is ontwerp vir die 2008- Olimpiese Spele in Beijing.

Ek het by so baie mense gehoor hoe onderontwikkeld China is en hoe ek gaan sukkel met my dag-vir-dag-bestaan. Ja, nes elke land is daar stedelike en landelike gebiede. Ek woon in Beijing, een van die grootste stede ter wêreld. Die stad het soveel om te bied. Van vermaak vir oud en jonk soos teaters, openbare oefen- en danssessies in plaaslike parke, die grootste verskeidenheid restaurante, massiewe winkelsentrums, die mooiste parke, moderne argitektuur, eeue-oue geboue, tot talle geskiedkundige besienswaardighede waarvan selfs een deel vorm van die sewe wonders van die wêreld – Die Groot Muur van China. Die stad moes veral sy sokkies optrek om gereed te wees as gasheer van die 2008-Olimpiese Spele. Hier is beslis geen tekort aan enigiets nie. Soos een van my voormalige kollegas, Peet Bothma, tereg vir my gesê het, ek woon op die drumpel van ‘n skatkis.

 

My woonstel in Beijing, China. Dit is ruim met ‘n aparte kombuis en badkamer en is glad nie so klein soos wat baie mense sal dink nie.

Chinese mense lyk nie almal dieselfde nie. Ek kon nog nooit verstaan waarom so baie mense dié wanpersepsie het nie. Hoe kan ‘n bevolking van ongeveer 1,379 miljard mense dieselfde lyk? In China is dit beslis nie die geval nie. Elke Chinese mens lyk anders, soos elke mens in die wêreld uniek en anders geskape is. Ek sien die diversiteit elke dag, oral waar ek gaan. Ek is ‘n baie lang vrou en moes by mense hoor ek gaan die langste mens in China wees, dat alles vir my te klein gaan wees en dat ek gaan sukkel om klere te kry wat my pas ens. Weereens is dit nie waar nie. Glo dit of nie, daar is ook lang Chinese. Nog ‘n ding, nie alles in China is klein nie. Alles is maar dieselfde grootte as in Suid-Afrika en seker die res van die wêreld. Daar is selfs mense wat vir my gevra het of ek in my woonstel pas. Die kort antwoord? Ja!

 

Ek dink Katie Melua is in die kol wanneer sy sing: There are nine million bicycles in Beijing.

Dit is glad nie vir my moeilik om hier oor die weg te kom nie. Die openbare vervoerstelsel is puik. Dit sluit in sneltreine, ‘n subway (metro-trein), busse en taxi’s. Ek raak nog daaraan gewoond dat motoriste hier aan die regterkant van die pad bestuur. Ons almal weet die verkeer in Suid-Afrika se groot stede is erg, maar hier in Beijing is dit ‘n duisend maal erger, want hier is so baie mense (ongeveer 21,5 miljoen) en so baie voertuie. Daar is ook nie ‘n ding soos spitstydverkeer nie. Daar is altyd verkeer, selfs 01:00 in die oggend. Daarom is dit beter om so ver moontlik van openbare vervoer gebruik te maak. Jy loop ook die meeste van die tyd na waar jy wil wees in jou omgewing of tussen die treinstasie, bushalte en jou eindbestemming. Dit is gerieflik en goeie oefening. Wanneer jy inkopies doen, kan jy nie te veel op ‘n keer koop nie, want jy gaan dit saam met jou moet dra tot by die huis. Dit is nie soos in Suid-Afrika waar jy alles op een keer koop, dit in jou voertuig se kattebak laai en alles by die huis kan uitpak nie. Die gevolg is dus meer gereelde besoeke aan die winkelsentrum.

 

Die meerderheid passasiers op die moltrein in Beijing, China, is pal op hul selfone besig.

Wat tegnologie betref is China ook ligjare voor Suid-Afrika. Hier is die selfoon-toepassing, WeChat®, alles. Dit staan in China bekend as The App for Everything. Sonder jou selfoon is jy verlore. Jy gebruik dit om kos te bestel, jou woonstelhuur te betaal, vliegtuig- of treinkaartjies te koop, water-en elektrisiteitsrekening te betaal, om ‘n doktersafspraak te maak en soveel meer. Jy gebruik ook die toepassing om oral vir alles te betaal. Jy koppel eenvoudig jou bankrekening aan jou WeChat®- rekening, plaas fondse oor en gebruik dan jou selfoon om te betaal. Die kassier skandeer slegs ‘n QR-kode wat op die toepassing vertoon word, dan tik jy jou wagwoord in en siedaar, transaksie voltooi. Byna niemand betaal meer met kontant nie en jy gebruik ook nie jou bankkaart nie. In die plattelandse gebiede is daar egter nog baie mense wat met kontant handel dryf, omdat dit die klein dorpies se ekonomie makliker aan die gang hou.

 

Die Hall of Prayer for Good Harvests, die grootste gebou in die Temple of Heaven-kompleks in Beijing, China.

In dié vier maande het ek beslis my horisonne verbreed en geleer om na die wêreld deur ander se oë te kyk. Ek het ook geleer om nie jou ore uit te leen aan oningeligte opinies of stories nie en iets eerder self te ervaar en dan ‘n ingeligte opinie te vorm. In my volgende artikel gaan ek na meer wanpersepsies oor China verwys. Ek sien uit om julle verder saam met my op my reis te neem.

Deel.

Oor die Outeur

Dianke Nel is tans 'n ESL (English as a Second Language) onderwyser in Beijing, China. Voordat Dianke in September 2017 na China verhuis het, was sy 'n radiojoernalis en vervaardiger vir RSG se nuus-en aktualiteitsprogramme, Monitor en Spektrum by die SAUK. Dianke het in 2011 'n BA-graad in Kommunikasie by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus verwerf. Sy het in 2012 haar BA honneursgraad in Ontwikkelingskommunikasie by dieselfde universiteit verwerf. Dianke is 'n trotse Potchefstromer met 'n liefde vir tale, letterkunde, mense en diere.

Skryf jou repliek hier