Die Carolus Tregardt-avontuur: Zanzibar

0

Bekende ontdekkingsreisigers wat die verbeelding prikkel kom gewoonlik van lande soos Portugal, Spanje, Sjina, Arabië, Brittanje en selfs die oostelike state van die VSA. Suid-Afrika het ook sy eie ontdekkingsreisiger wat sy eie plekkie behoort te hê in die panteon van die ywerige ontdekkers van “terra incognito”. Sy naam was Carolus Tregardt (foto regs).

Dalk lyk Carolus se van vir jou bekend? Hy was die seun van Louis Tregardt, bekende Voortrekkerleier wat gedurende die Groot Trek tot by die Soutpansberge getrek het. Later in 1838, trek hy en sy hele geselskap ooswaarts na Mosambiek om hulp van die Portugese in Delagoabaai (tans bekend as Maputo) te kry. Carolus het sy pa tot by Delagoabaai gevolg, maar moes sien hoe sy ouers en ook sy vrou in Mosambiek aan malaria sterf. Ter herinnering aan hierdie epiese trek staan daar vandag ʼn monument vir die Tregardt-trek in Maputo, ʼn massiewe mosaïekkaart van Suid-Afrika wat op grondvlak lê, omgewe deur ʼn fries aan die agterkant. ʼn Klein kleurvolle hoekie in ʼn stad waar grys en gevlekte betongeboue teen ʼn tropiese blou agtergrond ‘n teenstelling vorm. Maar waar Louis Tregardt se storie geëindig het, het Carolus s’n begin. Louis het Carolus aangeraai om deur middel van die Portugese ʼn ander heenkome vir die Trekkers te soek. Carolus het ag op sy pa se woorde geslaan en saam met ander seevaarders die kuslyn van Oos-Afrika besoek.

Louis Tregardt-gedenktuin, Maputo

Hy het nie saam met sy mede-Voortrekkers na Suid-Afrika teruggevaar om by Port Natal (Durban) deur die Natalse Voortrekkers ontvang te word nie. Carolus as jong man het besluit om liewers Oos-Afrika aan te pak. Noudat sy familie nie meer ʼn wakende oog oor hom kon hou nie en hy natuurlik sy eie brood moes verdien, het hy saam met die Portugese seevaarders na die eilande van die Indiese Oseaan gereis. Een van sy bestemmings was die eiland Ungoja, beter bekend saam met die noordelike eiland van Pemba, as Zanzibar.

Carolus het by Stone Town, die hoofstad van die eiland, voet aan wal gesit en beslis dadelik die “Jumba!”-welkomkrete en “Karibu”-dankseggings gehoor. Spierwit strande wat grens aan die turkoois waters van die Indiese Oseaan het Carolus ingewag en ‘n mens wonder waarom hy nie op Zanzibar besluit het as ʼn nuwe heenkome vir die Trekkers nie. Hy was mos op ʼn eiland met ʼn aangename klimaat en vrugbare grond waar speserye en vrugte van die plaaslike plantasies, soos bewerk deur Swahili-plaaswerkers vir Omaanse plantasie- eienaars, aan elke aanvraag kon voldoen. Dit was wel ook ʼn eiland van onderdrukking. Die slawehandel en ystertoorn van die Omaanse sultan kon hy verseker nie misgekyk het nie. Sy beoogde Voortrekkergemeenskap sou nie die mag van die Omaanse heerskappy tot ʼn einde kon bring nie. Met daardie begrip mooi vas in sy geheue gepen, het Carolus seker toe sy kokosneutsap gedrink en gekyk hoe die Swahili met hul dhows voor die skemerson as silhoeëtte rond vaar.

Zanzibar was en is steeds ʼn paradys. Carolus Tregardt was dalk die eerste Suid-Afrikaner in Zanzibar, maar hy sal nie die laaste een wees nie. Zanzibar is net om die draai.  Na ʼn drie-uur-lange vlug vanaf O.R. Tambo Lughawe, kan jy vir ʼn week in ʼn gesogte en hoogaangeskrewe bestemming in die Indiese oseaan ontspan. Dit is presies wat ek gedoen het met my eerste reis om die lewensverhaal van Carolus Tregardt beter te verstaan.

Uroa-strand, Zanzibar

ʼn Week se verblyf by die Uroa Bay Beach Resort was presies wat die dokter voorgeskryf het. In my eie woonstelletjie, enkele treë van die swembaddens, strandkroeg en natuurlik die strand self, kon ek myself verlustig in die skoonheid van ʼn ware tropiese eiland.

Zanzibar se lughawe word tans opgeknap, maar dis ‘n stadige proses om jou paspoort gestempel te kry. Daarna  het my drywer van Galery Tours reggestaan om my na Uroa aan die teenoorgestelde kant van die eiland te neem.  Moenie dat dit jou afskrik nie. Die eiland is so klein dat jy binne 45 minute van wes na oos  kan ry. Wat ʼn belewenis om deur die stad Zanzibar, deur die platteland en tot by jou vakansieoord geneem te word! Die bestuurders van Zanzibar moet elkeen uitstekende bestuursvernuf hê soos wat hulle elke slaggat, dier en ook mekaar suksesvol vermy, sonder om die passasier benoud te maak! Met aankoms by Uroa word ‘n mens dadelik gehelp, ingeboek en genooi na die middagetetafel om jou moeë liggaam te versterk. Let daarop dat die koste $7 beloop vir ʼn week se verblyf op die eiland. Die plaaslike owerhede beskou dit as broodnodige belasting. Met daardie administratiewe fooitjie uit die weg geruim, is die strand, oord en die hele Zanzibar feitlik oop vir jou eie ontdekkingsreis.

Slawe-monument op ou Slawemark lein, Stone Town Zanzibar

 

 

ʼn Daglange ekskursie na Stone Town, die spesery- en vrugteplantasies en die geheimsinnige “Prison Island” sal ‘n mens in verbinding plaas met meer as net ou Carolus. Stone Town was vir my die hoogtepunt. Die gewone toeriste- aantreklikhede word besoek, soos waar Freddie Mercury, die hoofsanger van Queen (natuurlik!) gebore is en waar dr David Livingstone een van die grootste handelsposte van die Oos-Afrika slawerny-roete aanskou het. Die slawemark bestaan natuurlik nie meer nie. ʼn Katolieke katedraal staan nou waar die mark eens was. Die Oos-Afrikane wat deur ryk slawehandelaars na Zanzibar verskeep is, soos Tippu Tip (wie se graf in Stone Town heeltemal met gemors bestrooi is), is aan kopers ten toon gestel deur hulle aan bome, op die markplein vas te maak. Vandag  sien ‘n mens  ʼn ronde granietsirkel reg voor die katedraal se altaar, wat in die vloer ingemessel is. Die sirkel verteenwoordig die presiese plek waar die “slaweboom” van die mark eens gestaan het en presies hoe dik die stam was waaraan die slawe vasgeketting was. Carolus moes seker soos ʼn paal bo water uitgestaan het toe hy saam met die daaglikse kopers deur die slawemark gewandel het. Het die Oos-Afrika slawehandel hom dalk afgeskrik? Seker nie as ‘n mens die feit in ag neem dat slawerny in die Kaapkolonie eers teen 1834 gestaak is nie. Carolus moes gedurende sy vormingsjare gewoond gewees het aan die industrie van slawehandel.

Ongelukkig word die ou Sultan se paleis en die “Huis van Wonders” tans opgeknap en die proses om dit te voltooi, volg nie ʼn stiptelike skedule nie. Dis ʼn jammerte want dit is moeilik om te verstaan hoe Carolus die mag van die Omaanse ryk beleef het sonder om sy paleis en hoofadministrasiegebou te kan besoek. Om op te maak vir die ongelukkigheid oor ʼn geslote museum, is ʼn besoek aan die makabere “Prison Island” op een van die plaaslike dhows ʼn regstellende opsie. Op dieselfde eiland is van die oudste Aldabraskilpaaie in die wêreld. Die oorspronglike een wat die tweedelaaste sultan van Zanzibar van die Seychelles-eilande saamgebring het, leef steeds en snork die hele dag deur. Op elkeen se dop word die ouderdom aangedui. Die bogenoemde “Oubaas”- skilpad is reeds 192 jaar oud; dalk kan ‘n mens dan sy energielose handeling met toeriste verskoon. (Dalk het Carolus die skilpad gesien toe diè nog ʼn kleintjie was? Wie sou weet?)

Die noue stegies van Stone Town, ʼn UNESCO bewaarde erfenisterrein waar geen aanbouings gemaak mag word nie, is soos ʼn doolhof as jy nie ʼn kaart byderhand het of ʼn plaaslike gids betaal om jou te begelei nie. Anders kan jy dalk verdwaal soos wat jy die imposante deure by verskillende huise aanskou.

Ou Fort, Stone Town, Zanzibar

Net aan die buitekant van die stegies en reg langs die strand is die ou Fort. Ek is oortuig dat Carolus na sy aankoms eers na die fort toe moes gegaan het om sy belange in Zanzibar aan die Omaanse offisier te verduidelik. Daar moes hy die militêre mag van die Omaanse ryk aanskou het. Dalk het hy daar en dan  besluit dat Zanzibar nie die ideale plek vir die Trekkers was om ʼn nuwe lewe te begin nie. Hy moes ʼn ander plek soek. Het hy Tanganjika, Madagaskar of Kenia oorweeg? Die bestudering van sy lewensverhaal en reise sal sekerlik antwoorde openbaar.

Deel.

Oor die Outeur

Emile Coetzee is a dosent in Geskiedenis by NWU Mahikeng. Hy is ingeskryf vir sy MA in Geskiedenis by die NWU Vaal Driehoek kampus. Hy het by die Universiteit van Pretoria 'n BA graad (Geskiedenis en Argeologie as hoofvakke) in 2008 voltooi en in 2010 sy BHCS graad in Geskiedenis en 'n Nagraadse diploma in Museum en Erfenisbestuur by dieselfde universiteit gekry. Tesame met sy skryfwerk vir vakjoernale en ander akademiese publikasies, skryf hy ook artikels, resensies en kortverhale vir die breër leserspubliek.

Skryf jou repliek hier