Die “Flying Saucer”-afrit en ander Suid-Afrikaanse VVV-stories

2

Met die komende “The Alien and UFO Expo” wat hierdie naweek by die Sandton Konvensiesentrum begin en die feit dat daar op die R21 ‘n afrit is met die naam “Flying Saucer”, is dit dalk die regte tyd om kennis te neem van “Vreemde Vlieënde Voorwerpe” (VVV) wat in Suid-Afrika se geskiedenis voorgekom het.

Flying Saucer-afrit, Pretoria

Verskillende Suid-Afrikaanse plekname het oor die laaste twee dekades verander. Vorige leiersfigure waarna strate, pleine, dorpe, lughawens, ens. vernoem is, moes nuwe name kry om nuwe owerhede gelukkig te maak. Dit terwyl daar vreemde plekname is soos Witch Hazel-laan in Centurion en dan soos bo vermeld en vertoon, die Flying Saucer-afrit. Dit laat ‘n mens wonder of hierdie twee spesifieke plekname liewers in die slag moes gebly het in plaas van byvoorbeeld Kerkstraat. Of is daar ‘n interessante stukkie geskiedenis wat agter hierdie plekname skuil?

Dit word beskou as “goedkoop” geskiedenis om in samesweringsteorieë te delf, soos die moontlikheid van VVV- landings binne-in ons lugruim. Die bewyse vir sulke landings is maar yl gesaai en die gerugte oor sulke gebeurtenisse word gedurig versprei. Daar is selfs ‘n organisasie wat hierdie “ontmoetings” bestudeer. Hulle staan bekend as UFORSA (UFO Research South Africa). Gebaseer op die inligting op hul webblad, blyk dit dat hulle in 2015 laas ‘n foto of enige inligting gekry het.

Die gerug oor die Flying Saucer-afrit is dat dit verwys na ‘n waarneming van ‘n VVV gedurende die 1970’s, wat daar naby gebeur het. Neem kennis dat dit net ‘n gerug is en dat ek glad nie bereid is om enige kommentaar daarop te lewer nie. Skepties bly ek tot die dag van my dood! ‘n Ander moontlikheid is dat daar voorheen ‘n restaurant naby die afrit geleë was, wat die publiek aan ‘n vlieënde piering laat dink het omdat die restaurant in ‘n ronde gebou gehuisves was.

Maar, vreemd genoeg was daar ander waarnemings wat in die laaste vyftig jaar groot belangstelling in Suid-Afrika gewek het. Drie onlangse waarnemings word kortliks bespreek.

Elizabeth Klarer en Aton

Elizabeth Klarer, Suid-Afrika se bekendste “UFOloog”

Gebore in Mooirivier, in vandag se KwaZulu-Natal, op 1 Julie 1910, beweer Elizabeth Klarer dat sy al gedurende haar kinderjare vreemde verskynsels in die hemelruim gewaar het wat bo haar ouers se plaas rondgevlieg het. Sy het na haar skoolopleiding in Florence kuns en musiek studeer, maar later meteorologie by Cambridge Universiteit gestudeer. Daar het sy sommer ook haar vlieglisensie vir ligte vliegtuie bekom.

Op die ouderdom van 44 het sy, volgens haar eie getuienis, kontak gemaak met ‘n wese van die planeet Meton. Sy naam was Akon en hy en Elizabeth het ‘n lewenslange verhouding gehad waaruit blykbaar selfs ‘n kind, Ayling, gebore is. Hulle het mekaar gewoontlik by “Flying Saucer”-koppie naby Rosetta in Natal ontmoet. Elizabeth en Akon het saam na die planeet Meton gevlieg en daar het Elizabeth sy familie ontmoet. Volgens haar eie getuienis het sy op die planeet Meton geboorte aan hul seun geskenk. Sy kon nie die natuurlike omstandighede op Meton hanteer nie en moes teruggeneem word na die planeet Aarde. Sy het geglo dat Akon haar in 1982 vir die laaste keer sou kom haal. Sy is in 1994 oorlede en het haar “wedervaringe” gepubliseer.

Akon, Elizabeth se minnaar van die planeet Meton

Die Braeside- en Loxton-geval

Gedurende Junie 1972 het ‘n vreemde verskynsel voorgekom op die plaas Braeside, net buite die Oos-Kaapse dorpie Fort Beaufort. Die eienaar was Bennie Smit, ‘n besigheidsman van Oos-Londen, wat deur een van sy plaasarbeiders, ‘n ene Boer de Klerk, ingelig is dat ‘n vreemde “rooi bal” oor die bome en naby die waterreservoir gesweef het. Beide Smit en De Klerk het die verskynsel gewaar en dadelik die polisie op die dorp gekontak. Adjudant-offisier PR van Rensburg en sersant PC Kitching is dadelik na Braeside om Smit by te staan. Die twee polisie-offisiere het ook die rooi bal-gedoente aanskou en daarop geskiet, maar kon geen skade aanrig nie.  Daarna het die bal verdwyn, maar soortgelyke waarnemings is kort daarna ook in Port Elizabeth gerapporteer.

In Julie 1975 het Danie van Graan op sy plaas naby Loxton ondersoek gaan instel nadat hy ingelig is dat vreemde gebeure hulle afspeel naby een van die veekrale, wat agter ‘n hoë grondwal was. Toe hy die bokant van die drie meter-hoë wal bereik, kon hy die glinsterende aluminiumdak van die voorwerp in die kraal van nader bekyk. Hy het eers gedink dat dit ‘n karavaan is, maar gou besef dat dit nie een is nie. Hy het so naby aan die voorwerp gekom, dat hy gedaantes in die “ronde masjien” kon sien rondloop. Hy beweer hulle was klein, met skuins ogies en het roomkleurige klere aangehad. Toe hulle hom gewaar, het hulle vinnig die masjien aangeskakel en met ‘n geweldige spoed weggevlieg.

Die Groendal Natuurreservaat-geval

Op Sondag, 1 Oktober 1978, het vier jong seuns die laaste roete van hul avontuur in die Groendal Natuurreservaat aangepak nadat hulle die naweek saam gekamp het. Peter Simpson (16), Jannie Bezuidenhout (15), Hugo Ferreira (12) en Joe Perino (13) moes saam na ‘n nabygeleë monument loop om Peter se ma daar te ontmoet wat hulle later die dag sou huis toe neem.

Die vier maats het ‘n rukkie voor die afgesproke tyd by die monument aangekom en kon dus ‘n bietjie rus na hulle oggendstappie. Dit is toe dat hulle ‘n vreemde silwer voorwerp tussen die bosse oorkant hulle sien, asook twee mans wat naby hulle verby beweeg. Die mans het met gemak teen die opdraande uitbeweeg en dit was later vir die vier seuns ooglopend dat die mans nie normaal loop nie. Hulle het oor die oppervlakte gesweef met hulle bagasie wat op ‘n onsigbare wyse aan hulle verbind was. Die twee mans het eienaardige uniforms en kopbedekkings gedra, wat dit vir die seuns onmoontlik gemaak het om hulle gelaatstrekke te sien. Maar toe die eienaardige mans die seuns gewaar, het hulle vinnig padgegee en die silwer voorwerp het toe ook verdwyn.

Groendal Natuurreservaat buite Uitenhage (Oos-Kaap)

Die seuns het met ‘n beampte van die natuurreservaat, ene meneer DP Zeelie, oor hulle ervaring gesels en hy het  erken het dat hy ook onlangs ‘n vreemde ronde groen lig in die reservaat gewaar het. ‘n Geoloog van die Universiteit van Port Elizabeth (tans bekend as Nelson Mandela Universiteit) het die silwer voorwerp se “landingstrook” bestudeer en bevind dat daar wel nege simmetriese indrukke in die grond was. Vier van die indrukke was ovaalvormig, met vier klein gaatjies wat binne-in die vorm gesien kon word. Die geoloog kon nie die verskynsel verduidelik nie.

Die bovermelde gevalle is seker maar net die punt van die ysberg wanneer dit kom by Suid-Afrikaanse VVV- waarnemings; die meeste kan maar met ‘n knippie sout geneem word. Sedert die laat 1970’s was daar ‘n reeks ander waarnemings waarvan kennis geneem is, maar sonder enige grondige bewyse dat dit waarlik “vreemde vlieënde voorwerpe” was.

Vir meer inligting oor Suid-Afrikaanse VVV-waarnemings, kan die bovermelde studiegroep (UFORSA) gekontak word, maar die gevalle soos beskryf in Rob Marsh se boeke, sal net soveel van hulp wees om ‘n mens se verbeelding te vernuwe.

So wat is dan die rede waarom Pretoria ‘n afrit het met die naam “Flying Saucer”? Hopelik is daar iemand wat Eensgesind en ons lesers  oor hierdie eienaardige pleknaam kan inlig.

 

Deel.

Oor die Outeur

Emile Coetzee is a dosent in Geskiedenis by NWU Mahikeng. Hy is ingeskryf vir sy MA in Geskiedenis by die NWU Vaal Driehoek kampus. Hy het by die Universiteit van Pretoria 'n BA graad (Geskiedenis en Argeologie as hoofvakke) in 2008 voltooi en in 2010 sy BHCS graad in Geskiedenis en 'n Nagraadse diploma in Museum en Erfenisbestuur by dieselfde universiteit gekry. Tesame met sy skryfwerk vir vakjoernale en ander akademiese publikasies, skryf hy ook artikels, resensies en kortverhale vir die breër leserspubliek.

2 kommentare

  1. Daar was destyds ‘n restaurant (roadhouse) wat gebou is soos ‘n ‘vlieende piering’. Ons het as kinders gereeld met ons fietse soontoe gery. Stuur ‘n e-pos, dan stuur ek foto’s

Skryf jou repliek hier