Die held van Tafelbaai, Wolraad Woltemade

0

Wolraad Woltemade was al ‘n ouerige man toe hy in 1773 veertien mense se lewens gered het, want hy was op daardie dag op die strand by die mond van die Soutrivier om vir sy jongste seun, ‘n soldaat, iets te ete te bring.

Ou rekords toon dat hy reeds in 1752 as korporaal te Muizenberg gestasioneer was, en ten tyde van sy dood was hy die ‘dairyman’, waarskynlik in beheer van die Kompanjie se diere.

Die VOC se skepe was eintlik veronderstel om in Simonsbaai geanker te lê, maar omdat dit geriefliker was om voorrade op en af te laai as hulle in Tafelbaai was, het die goewerneur soms die reëls geignoreer. In Mei 1773 was die Kaapse weer baie onstuimig, en die vyf skepe in die hawe wat sedert 29 Mei gereed was om die terugtog Holland toe aan te pak, het geen kans gestaan teen die aanslae van die wind, die reën en die golwe nie.

Van die vyf was die ‘De Jonge Thomas’ in die slegste posisie, en toe daar nog net een anker tou heel was, het die kaptein besluit om liewer die skip te strand waar hy die plek kon kies: die plat strook strand net noord van die mond van die Soutrivier. Wat hy egter nie besef het nie, is dat die storm die mond van die rivier met sandbanke geblokkeer het, wat veroorsaak het dat die rivier deur sy banke gebreek het net noord van waar die mond gewoonlik was. Dit het erge strominge veroorsaak, en uiteindelik gelei tot die tragedie wat daarna gevolg het.

Dit was die nag van 1 Junie 1773.

Die skip is met geweld teen die strand geslinger en het in twee gebreek. Die strand was so naby dat baie van die bemanning daarheen probeer swem het, maar net die sterkstes het geslaag vanweë die sterk strominge. Voorrade en liggame het op die strand uitgespoel, en soldate is daarheen gestuur om dit op te pas.

Een van hulle was korp. Christian Ludwig Woltemade, Wolraad se jongste seun.

Die toeskouers op die strand het nie een probeer om die drenkelinge te red nie, omdat die see so onstuimig was. Wolraad Woltemade, met sy goeie hart, het egter dadelik tot aksie oorgegaan. Sy perd was ‘n goeie swemmer en hy het twee-twee van die skip se bemanning uit die golwe gered deur hulle aan die dier se stert te laat vashou. Na die sewende rit was altwee heeltemal uitgeput, en Wolraad het afgeklim om die dapper perd te laat rus.

Die paniekerige gegil van die skip af het egter verskerp, en hy het besluit om tog nog ‘n laaste keer te probeer. Hierdie keer was daar egter meer as twee drenkelinge wat paniekerig aan die doodmoeë dier probeer vasklou het, en uiteindelik is almal saam ondergetrek en het Wolraad ook verdrink. Sy liggaam, saam met baie ander (o.a. die van die skip se kaptein) het die volgende dag op die strand uitgespoel.

Die VOC het, toe hulle bewusraak van sy heldedaad, eer aan hom betoon deur o.a. een van hulle nuwe skepe na hom te vernoem.

Lees gerus meer by:

https://web.archive.org/web/20070304011323/http://www.vocshipwrecks.nl/out_voyages8/jonge_thomas.html

Bron: Turner, Malcolm. Shipwrecks & Salvage in South Africa, 1505 to the present. Cape Town, 1988

Foto: SA Biblioteek

Deel.

Oor die Outeur

Riana Mulder hanteer navrae oor die ES se eie erfenisterreine en ander bewaringsaangeleenthede waarby die maatskappy betrokke is, asook navrae oor museumverwante aangeleenthede, insluitende die Ossewabrandwagversameling. Sy is verantwoordelik vir die EBB-projek (Erfenisbewarings-bewusmaking), doen tans navorsing vir 'n resepteboek gekoppel aan Pretoria se geskiedenis, en dien op die Raad van die Oorlogmuseum van die Boererepublieke.

Skryf jou repliek hier