Diederik Coetzee: Grondbaron of dorpstigter?

2

‘n Padlangs Noordwes-artikel

Wat het gebeur?

Die dorpie Zeerust (oorspronklik bekend as Coetzeerust) was eens die laaste dorpie in die noordweste van die ou ZAR (Zuid-Afrikaansche Republiek of Transvaal) voordat ‘n mens die Britse protektoraat van Betsjoeanaland (Botswana) sou bereik het. In 1867 is die dorp gestig as gevolg van die handelinge van die plaaslike “grondbaron”, Diederik Coetzee (1802-1891).

Coetzee het die reg gehad om twee plase vir homself uit te lê soos Transvaal se eerste grondwet gestipuleer het. Elke Transvaalse burger wat die Groot Trek meegemaak het, kon twee plase vir homself opeis en ook ʼn erf in die naaste dorp. Coetzee het toe besluit om sy plase by die Klein-Maricorivier te gaan uitlê volgens sy eie afmetings. Die naaste dorpe aan hom sou Rustenburg of Potchefstroom gewees het, waar hy sy dorpserf kon hê. As gevolg van die dood van sy neef en swaer, Casper Coetzee, het Diederik Coetzee dit reggekry om vier plase op sy naam te registreer en die Transvaalse regering het eers ʼn dekade later ʼn bohaai daaroor gemaak. Hy is in 1866 ingelig dat hy van twee plase afstand moes doen, omdat hy wel geregtig was op twee (hy was immers deel van die Andries Potgieter-trekgeselskap). Coetzee het toe ʼn plan gemaak om munt uit die situasie te slaan. Hy het besluit om die plaas Hazenjacht te gebruik om ʼn dorp te stig wat sy naam sou dra. Sy oorlede neef wou ook ‘n dorp op hierdie plaas uitgelê het en het selfs ‘n ene Walter Seymore oorreed om ‘n kerk en ‘n fort op die plaas te bou, maar niks het van hierdie planne gekom nie. Waar Casper se drome geëindig het, het Diederik tot aksie oorgegaan.

Net met osrieme toegerus, het Diederik Coetzee die erwe van sy beplande dorp uitgelê. Van 20 Maart 1867 af kon belangstellendes ‘n erf in “Coetzee-rust” by die amptelike aangestelde verkoper in Potchefstroom koop en registreer.

Diederik kon natuurlik die beste moontlike watererf in sy nuwe dorp vir homself toeëien. Hy het ook ʼn erf oorhandig aan die Hervormde Kerk en sodoende dit moontlik vir hom gemaak om sy nagmaal sommer so buite sy voordeur te kry, in plaas daarvan ‘n lang reis na Potchefstroom te onderneem om die naaste kerk te besoek. Met die nuutgestigte dorp kon hy ook ʼn markplein skep sodat alles wat hy op sy ander twee plase sou verbou, verkoop kon word en hy persoonlik daaruit kon baat. Coetzee se storie bewys hoe ʼn probleem in ‘n geleentheid omskep kan word. In sy geval was die eindresultaat die dorpie Zeerust.

Padlangs gevind

Op die N4 weswaarts en net voordat ‘n mens oor die Klein-Maricorivier ry en dus Zeerust bereik, is die graf van Diederik Coetzee en sy broer Casper, en albei word as die dorpstigters van Zeerust erken. Daar is ʼn padteken aan die linkerkant van die snelweg wat die posisie van die graf aandui en genoeg spasie om af te draai en veilig stil te hou. Die ou familiebegraafplaas kan maklik gevind word sodra ‘n mens deur die nou ingangspoortjie stap. In hierdie stadium is net drie grafstene leesbaar, waaronder die van Diederik en Casper, omdat ʼn erfeniskomitee sewentig jaar gelede oor die grafte van die dorpstigters besorgd was. Ongelukkig kan dieselfde nie gesê word van die hedendaagse plaaslike regering nie.

Loading
Center map
Traffic
Bicycling
Transit

Hierdie monument kan vergelyk word met die een vir Piet Potgieter in Makopane (die ou Potgietersrus) en die Andries Pretoriusgraf (in die heldeakker in Pretoria), waar historiese figure waarna die dorp vernoem is, in die dorp of distrik rus. Maar nie Potgieter of Pretorius het die spel gespeel soos Coetzee nie, wat as “grondbaron” ʼn dorpstigter geword het.

Grafte van Diederik en Casper Coetzee

 

Deel.

Oor die Outeur

Emile Coetzee is a dosent in Geskiedenis by NWU Mahikeng. Hy is ingeskryf vir sy MA in Geskiedenis by die NWU Vaal Driehoek kampus. Hy het by die Universiteit van Pretoria 'n BA graad (Geskiedenis en Argeologie as hoofvakke) in 2008 voltooi en in 2010 sy BHCS graad in Geskiedenis en 'n Nagraadse diploma in Museum en Erfenisbestuur by dieselfde universiteit gekry. Tesame met sy skryfwerk vir vakjoernale en ander akademiese publikasies, skryf hy ook artikels, resensies en kortverhale vir die breër leserspubliek.

2 kommentare

Skryf jou repliek hier