Drie kanonne op ʼn presidensiële graf?

0

‘n Padlangs Noordwes-artikel

Wat het gebeur?

Die eerste president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR, ook bekend as Transvaal) was ʼn man met die naam Marthinus Wessel (MW) Pretorius. Hy was die seun van generaal Andries Pretorius wat bekendheid verwerf het by die Slag van Bloedrivier (16 Desember 1838), hoewel hy ook slaags geraak het met die Britse militêre magte by Congella (te Durban) en by Boomplaats (in die Suid-Vrystaat). Selfs na hierdie nederlae kon generaal Andries Pretorius in 1852 daarin slaag om by die Sandrivier (ook in die Vrystaat)  ʼn verdrag met die Britse ryk aan te gaan wat lewe sou skenk aan ʼn republiek noord van die Vaalrivier.

Pres. MW Pretorius

Generaal Pretorius sou uiteindelikie nie sy republiek in vrede kon lei nie, want na sy dood in 1853 het sy seun, MW, die leisels oorgeneem. MW moes ʼn nuwe republiek lei as deel van ‘n nuwe generasie leiers wat die Groot Trek beleef het en hulleself in die binneland van Suid-Afrika gevestig het. MW Pretorius was veronderstel om soos ‘n “George Washington” vir Transvaal te wees. Hy moes die basiese werk doen om ʼn nuwe staat van die grond af op te bou en die resultaat dan aan die volgende generasie te oorhandig. Hierdie scenario kan vergelyk word met die verantwoordelikheid van die teenswoordige millenniale generasie wat later hierdie eeu Suid-Afrika van die ouer generasies sal erf en dan die Suid-Afrikaanse Staat verder moet versterk tot voordeel van hulle opvolgers.

Maar MW het ‘n massiewe taak gehad; het hy daarin geslaag? MW Pretorius was ʼn dromer en wou Transvaal (met die hoofstad in Potchefstroom) met die Vrystaat (republiek sedert 1854) verenig as een “Boererepubliek” bo die Oranjerivier (Gariep). Sy droom het in ʼn burgeroorlog in Transvaal ontaard toe generaal Stephanus Schoeman nie van Pretorius se droom en langdurige verblyf in Bloemfontein gehou het nie. Pretorius het wel as oorwinnaar uit die stryd getree, maar sy reputasie was geskaad. Die staat wat president Thomas F. Burgers in 1872 van Pretorius moes oorneem, het potensiaal gehad soos wat Burgers geglo het, maar Transvaal was glad nie ‘n sterk en goed ontwikkelde (of selfs ontwikkelende) staat nie.

Padlangs gevind

In Potchefstroom kan MW Pretorius se historiese nalatenskap gevind en eerstehands beleef word. Die eerste plek om te stop is die huismuseum in Thabo Mbekiweg. Daar het Pretorius sy kantoor gehad waar hy enige tyd ʼn besoek van ʼn afgevaardigde kon verwag. Sy wamakery is ook te siene, want Pretorius het nie sy brood en botter alleenlik uit die politiek verkry nie – hy moes na sy ampstermyne ‘n inkomste uit sy ambag as wamaker maak. Gub jouself so’n uur om die huis en die verskillende artikels te besigtig en ook met die belese en kundige kurator, mnr. Johan Wolvaardt, ʼn geselsie aan te knoop. 

Loading
Center map
Traffic
Bicycling
Transit

Daar is nie ʼn beeld van MW Pretorius in Potchefstroom nie. Om dit te sien, moet ‘n mens al die pad na Pretoria toe ry waar sy enigste beeld reg voor die standbeeld van sy pa op Pretorius-plein staan; maar Pretorius se laaste rusplek is wel in Potchefstroom.

President M.W. Pretorius-huismuseum, Potchefstroom

Omdat hy die eerste president van die ou Transvaal was, kan ‘n mens mos verwag om ʼn graf te vind wat tot ‘n nasionale besienswaardigheid verhef kan word, soos George Washington en sy gade se laaste rusplek te Mount Vernon in die VSA. Dit is bejammerenswaardig dat die nie die geval met MW Pretorius is nie. Suid-Afrika is bekend daarvoor dat die laaste rusplekke van bekende figure uit die verlede verwaarloos word. ʼn Graf is mos die naaste wat ‘n lewende persoon aan die wese van enige historiese figuur kan kom. Ongelukkig is dit tans moeilik om by MW Pretorius se driekanongraf uit te kom. Dis in die historiese begraafplaas by Alexanderpark, duskant Olënpark (die tuiste van die Noordwes Luiperde rugbyspan), in Potchefstroom.

Loading
Center map
Traffic
Bicycling
Transit

Wees versigtig indien jy belangstel om te sien of die president wel daar lê. Haweloses soek skuiling in hierdie historiese begraafplaas waar ook ander grafte van vorige burgers van die dorp gevind kan word. In die verste hoek is die naald wat as toring dien van die grafsteen wat as fondasie steeds na ‘n eeu standvastig staan. Interessant staan daar in beide Afrikaans (of sal ons dit Hollands noem?) en Engels op die grafsteen ingegraveer wie MW Pretorius was en waarom hy so ʼn ordentlike graf verdien. Maar hoekom het hy drie kanonne op sy graf?

Was dit omdat hy ʼn Staatsman en dus ‘n bevelvoerder van die Transvaalse en Oranje-Vrystaatse kommando’s was? Hoekom is twee van die kanonne na die noorde gemik? Is die rede dalk omdat dit die rigting was waarvandaan Schoeman gekom het toe hy Potchefstroom gedurende twee verskillende invalle ingeneem het? Of is dit net sommer ʼn simboliese aanduiding omdat twee van die kanonne dalk die President se eiendom was? Nie die skrywer, nog minder ander kundiges kon presies die antwoord vir hierdie raaisel vind nie. Wat ook al die rede, die graf met sy drie kanonnedwing dwing respek af.

President Pretorius se graf, Alexanderpark, Potchefstroom

Deel.

Oor die Outeur

Emile Coetzee is a dosent in Geskiedenis by NWU Mahikeng. Hy is ingeskryf vir sy MA in Geskiedenis by die NWU Vaal Driehoek kampus. Hy het by die Universiteit van Pretoria 'n BA graad (Geskiedenis en Argeologie as hoofvakke) in 2008 voltooi en in 2010 sy BHCS graad in Geskiedenis en 'n Nagraadse diploma in Museum en Erfenisbestuur by dieselfde universiteit gekry. Tesame met sy skryfwerk vir vakjoernale en ander akademiese publikasies, skryf hy ook artikels, resensies en kortverhale vir die breër leserspubliek.

Skryf jou repliek hier