Fort Klapperkop 120 jaar

0

‘n Eensgesind eksklusiewe vrystelling

Fort Klapperkop in Pretoria word 120 jaar oud op Donderdag 18 Januarie 2018. Groot feesvieringe word beplan. Op Donderdagaand word ‘n lesing oor die geskiedenis van die Pretoria-forte aangebied en op Vrydagaand ‘n skemerkelk. Saterdag 20 Januarie is die groot gebeurtenis met verskeie sprekers, volksdanse, die plant van botterklapperbome, afvuur van ‘n kanon, perdritte en dies meer. Op Sondag 21 Januarie volg ‘n erediens, asook verdere lesings, perderitte en ander aktiwiteite.

Waar kom die naam Klapperkop vandaan?

Klapperkop se naam is afkomstig van die botterklapper, ‘n inheemse boom wat nie meer daar aangetref word nie, aangesien die koppie in die dertigerjare van die twintigste eeu as plantasie benut is. Daar word dus gehoop dat die boompies weer hervestig sal kan word. Klapperkop is ook die hoogste geografies punt in Pretoria met ‘n uitstekende uitsig in alle rigtings.

Die Botterklapperboom

Die geskiedenis van die forte kan soos volg opgesom word

Kort voor die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het die regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) besluit om Pretoria te fortifiseer ten einde dit te beveilig. Die vernaamste rede vir die fortifisering van Pretoria was die Jameson-inval oor die ou- en nuwejaar van 1895 en 1896. In die trommel van een van die invallers, kaptein Robert White, is ‘n spioenasiekaart van Pretoria gevind. Hierdie gebeurtenis, asook die daarmee gepaardgaande onrus onder die uitlanders aan die Rand, het die regering laat besef dat oorlog onafwendbaar was.

Militêre kaart van Pretoria

‘n Verdedigingsplan is deur ‘n voormalige Franse artillerie-offisier en militêre ingenieur, Leon Grunberg, opgestel. Hy het agt strategiese plekke om Pretoria geïdentifiseer en voorgestel dat gepantserde, draaibare koepeltorings, wat van grofgeskut voorsien is, daar opgerig moet word. Die agt posisies wat hy in gedagte gehad het, was Klapperkop, Schanskop, Kwaggaspoort, Daspoortrand (wes), Magaliesberg-wes (moontlik by Hornsnek of Hartbeeshoek), Wonderboompoort, Derdepoort en Strubenkop. Hierdeur sou Pretoria in ‘n feitlik oninneembare vestingstad omskep word.

Omdat sy plan nie genoegsame skuiling en huisvesting aan ‘n groot aantal soldate kon verleen nie, is dit verwerp en alternatiewelik is die plan van twee Duitse ingenieurs, Otto Albert Adolph von Dewitz en Heinrich C Werner, aanvaar. Daar is besluit om op elkeen van die genoemde plekke ‘n fort te bou en ‘n boukommissie, onder voorsitterskap van kommandant-generaal Piet Joubert, is op die been gebring om die werksaamhede te bestuur.

Kommandant-generaal Piet Joubert

Vanweë ‘n geldtekort is slegs vier forte voltooi en die kommissie is in 1899 ontbind. Die voltooide forte is dié by Klapperkop, Schanskop, Daspoortrand en Wonderboompoort. ‘n Fort is ook in Johannesburg gebou, asook twee wapenmagasyne in Pretoria, naamlik die Sentrale Rooi- en Groenmagasyn.

Fort Klapperkop

Fort Klapperkop is die derde fort wat deur die Duitse firma opgerig is. Dit het 50 000 pond gekos en is op 18 Januarie 1898 voltooi. Die bevelvoerder van die fort was adjudant ASD Erasmus. Die fort is deur ‘n grag omring en het aan die voorkant daarvan ‘n valbrug gehad. Die grag het nooit enige water bevat nie, aangesien die skalieklip waaruit dit gekap is, te poreus is om water te hou. Nietemin was dit ‘n bykomende verdedigingsmeganisme vir die fort.

Verskeie grofgeskut is as bewapening in die forte geplaas, maar nie een van die forte is ooit ten volle bewapen nie. Die bekende 155mm-Creusotkanon (“Long Tom”) is pesifiek vir die forte aangekoop en hoewel elkeen van die forte in ‘n stadium met ‘n Long Tom bewapen was, is hierdie kanonne mettertyd onttrek.

Die “Long Tom” kanon

Soos by die ander forte het ‘n paraffienenjin krag by Fort Klapperkop opgewek en weerligafleiers is opgerig. Heliografiese en oorhoofse telegraaftoerusting is hier geïnstalleer. Die fort het oor ‘n telefoon beskik. ‘n Waterreservoir, wat water uit die Fonteinedal ontvang het, is onder die proviandvertrek gebou.

Rol van die forte tydens die oorlog

Die ontwapening van die forte het begin nog voordat dit volledig beman en bewapen kon word. Fort Klapperkop is op 3 Junie met liddiet bestook. Op 4 Junie 1900 het gevegte rondom Pretoria uitgebreek. Die Britte, vanweë spioenasiebedrywighede voor die oorlog, was bewus van die forte. Kanonskote is op Fort Klapperkop en Fort Schanskop afgevuur en die staaldeur van laasgenoemde fort is getref. Omdat die forte ontwapen was, is die skote nie beantwoord nie. Op 5 Junie 1900 het Pretoria onvoorwaardelik oorgegee en die Britse magte, onder bevel van lord FS Roberts, het die hoofstad beset.

Die forte is nou deur Britse soldate beset. Fort Daspoortrand in om 10:00 op 5 Junie deur die 2de Kavalleriebrigade beset. Die bevelvoerder van die fort was kaptein HW Margesson. Twee kompanjies infanterie het Fort Wonderboompoort op 7 Junie beset. Die bevelvoerder van die fort was kaptein C Blackburn. Infanterie- en artilleriesoldate het Fort Schanskop ook beset. Tydens die restourasie van Fort Klapperkop is die regimenstwapen van die Royal Scots Fusiliers in die officierenvertrek gevind. Dit was in die pleister van een van die mure ingekrap en suggereer dat hierdie eenheid Fort Klapperkop beset het.

Die water- en elektrisiteitstelsels, asook die telefone van die forte, is herstel waar nodig. Die forte is ook bewapen. As verdere versterking is sand- en graansakke, asook sinkborswerings met skietgate daarin op die grondwalle van die forte aangebring.

Ten einde die hoofstad verder te beveilig, het die Britte ‘n netwerk blokhuise rondom Pretoria opgerig en die forte hierby ingeskakel. Die Boere het egter nie probeer om die hoofstad weer in te neem nie; gevolglik het die forte geen verdere aksie tydens die oorlog beleef nie.

Die forte na die oorlog

Onder Britse bewind was die forte kroonbesit. Fort Wonderboompoort is op 7 Junie 1904 vir openbare doeleindes voorbehou, wat beteken dat dit nie meer in militêre besit was nie. In Januarie 1905 was daar planne om hierdie fort en Fort Daspoortrand in gevangenisse te omskep, maar ‘n inspeksie by laasgenoemde fort het getoon dat al die vensters gebreek was, dat sommige van die deure en vensterrame verwyder was en dat die pad in ‘n swak toestand was. Die planne is toe laat vaar. Fort Klapperkop en Fort Schanskop is vir militêre doeleindes behou. Die militêre aansprake op Fort Dasportrand het teen 1913 nie meer bestaan nie.

In 1913 is ou ammunisie in Fort Klapperkop gevind en vernietig. In 1922 is hierdie fort en Fort Schanskop aan die Suid-Afrikaanse Weermag oorgedra. Tot 1929 is die twee forte slegs vir sein- en waarnemingsdoeleindes gebruik. In 1932 is ‘n bronsplaat deur die Historiese Monumentekommissie by Fort Schanskop aangebring. Fort Schanskop en Fort Klapperkop is op 8 Julie 1938 to nasionale gedenkwaardighede verklaar. Tydens die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) is die twee forte as ammunisie-opslagplekke gebruik. Daar word beweer dat die dakke van die ander twee forte in hierdie tyd met plofstof vernietig is om te verhoed dat anti-regeringsmagte dit kan benut om die regering omver te werp. Hierdie bewering kon tot dusver nie gestaaf word nie.

In 1954 is Fort Wonderboompoort deur die staat aan die Stadsraad van Pretoria geskenk. Gedurende 1962 is besluit om Fort Klapperkop te restoureer en as ‘n militêre museum in te rig.

Die militêre museum Fort Klapperkop is op 23 Mei 1966 geopen. Ongelukkig is hierdie restourasie nie histories korrek gedoen nie en daar is moontlik meer kwaad as goed gedoen. Fort Schanskop is in 1978 deur die Suid-Afrikaanse Weermag gerestoureer en as museum ingerig. Dieselfde probleem word hier ondervind.

Fort Wonderboompoort en Fort Daspoortrand is vandag ruïnes. Die dakke van die twee forte is vernietig en die mure toon tekens van verval. Grond in die vertrekke van Fort Wonderboompoort is in 1986 opgeruim. Die fort is in 1987 tot ‘n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Vandag word dit as deel van die Wonderboom-natuurreservaat deur die Stad Tshwane bestuur. Dit word ook deur die Stadsraad se Afdeling Museums benut en netjies gehou.

Fort Daspoortrans is op provinsiale grond net buite die munisipale grense van die Stad geleë. Hierdie unieke meesterwerk word nie behoorlik bestuur nie en word gevolglik dikwels deur vandale beskadig.

Die Suid-Afrikaanse Weermag het die twee militêre museums in 1993 gesluit. In 1994 het die Stadsraad van Pretoria dit in besit geneem. Fort Schanskop is intussen aan die Direksie van die Voortrekkermonument oorgedra. Dit is weer as ‘n museum oopgestel, maar is nie gerestoureer nie.

Fort Klapperkop word deur die Stad Tshwane bestuur. Die fort is histories korrek gerestoureer en as museum ingerig. Dit is die enigste van die forte wat histories ingerig is.

Fort Klapperkop, Pretoria

Deel.

Oor die Outeur

Prof Anton Carl van Vollenhoven het die volgende kwalifikasies aan die Universiteit van Pretoria behaal: BA, BA (HONS) Argeologie (cum laude), MA Argeologie, Nagraadse Diploma in Museukunde (cum laude), Diploma in Tersiëre Onderwys en DPhil Argeologie. Hy behaal ook die MA Kultuurgeskiedenis (cum laude) en DPhil Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch, asook die Bestuursdiploma (cum laude) aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie. Gedurende sy loopbaan is hy werksaam as navorser aan die Militêre Museum Fort Klapperkop, argeoloog en kurator van die Pioniersmuseum aan die Nasionale Kultuurhistoriese Museum, kurator van die Fort Klapperkop Erfenisterrein van die Stadsraad van Pretoria en Adjunk-Bestuurde van die Stad Tswhane se Museums en Erfenis. Sedert Augustus 2007 werk hy voltyds as erfeniskonsultant (Direkteur van Archaetnos). Tussen 1988-2003 is hy ook deeltydse lektor in Argeologie aan die Universiteit van Pretoria en in 2014-2015 deeltydse lektor vir die Honneurskursus in Museumkunde in die Departement Historiese en Erfenisstudies aan die Universiteit van Pretoria. In 2015 word hy aangestel as Buitengewone Professor in Geskiedenis aan die Noordwes Universiteit. Hy is onder meer die outeur van 79 wetenskaplike en populêre artikels, outeur van meer as 845 ongepubliseerde navorsingsverslae en outeur van ‘n werk oor die militêre fortifikasies van Pretoria en Erfenisriglyne. Hy het reeds verskeie hoofstukke tot ander boeke bygedra en het meer as 67 referate by nasionale en internasionale kongresse gelewer. In professionele hoedanigheid dien hy as lid van die SAHRA Raad vir 2003 – 2006, lid van die PHRA Gauteng Raad 2012-2019, lid van die PHRA Gauteng se Erfenis-impakstudie beoordelingskomitee 2010-2019 (Voorsitter 2012-2019) en lid van die Navorsingsadvieskomitee van die Erfenisstigting. Hy is 'n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Vereniging vir Suid-Afrikaanse Professionele Argeoloë, die SA Museumvereniging en SA Vereninging vir Kultuurgeskiedenis (Voorsitter 2006-2008; 2012-2014). Hy tree op as Redakteur van die SA Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis 2002-2004 en dien sedertdien as assistent-redakteur.

Skryf jou repliek hier