Geheime organisasies of organisasies met geheime?

0

‘n Padlangs Noordwes-artikel

Wat het gebeur?

Geheime organisasies bestaan al etlike jare in Suid-Afrika. Hierdie organisasies ontmoet gedurende spesifieke geleenthede wat gewoonlik in die geheim gehou word deur lede wat nie hul verbintenis met so ‘n organisasie vrylik bekend wil maak nie. Daar is wel verskillende kategorieë waarin sulke eksklusiewe organiasies ingedeel kan word. Hierdie organisasies kan geheimsinnig wees, met spesifieke rituele, simbole en binnekringkennis, maar die organisasie self of ander belangstellende individue (lede of nie-lede) sal inligting  aan die publiek beskikbaar maak indien nodig.

Die ander moontlikheid is ‘n organisasie wat streef om onbekend te bly en wat geen inligting oor sy bedrywighede of ledetal aan enige persoon bekend sal maak nie. Dit is in die ware sin van die woord ‘n geheime organisasie.

Spesifieke lede van die algemene publiek glo gewoonlik dat organisasies van beide kategorieë ʼn soort mag of selfs invloed in die verskillende regerings van die wêreld het. In sommige gevalle mag dit wel so wees. Wat tog interessant is, is dat daar monumente is wat betrekking het op die verskillende geheime organisasies wat in Suid-Afrika ʼn rol gespeel het, of steeds vandag ‘n rol speel. Kan jy dalk een in jou tuisdorp vind?

Vrymesselaarsimbool

Een van die organisasies met geheime wat al driehonderd jaar bestaan (circa. 1717-2017), en eeue lank in Suid-Afrika bedrywig is, staan bekend as die Vrymesselary. In sy spekulatiewe formaat het hierdie broederskap (omdat net mans mag aansluit) stelselmatig oor die land versprei met die stigting van losies (die ontmoetingsplekke van Vrymesselaars). Deur die tentoonstel van verskillende simbole op die fasade van hul losies, kan enige lid en die ingeligte lede van die publiek presies bepaal waar die plaaslike losie sy maandelikse ontmoetings hou. Die hoofstad van Noordwes, Mahikeng, het ook so ‘n losie wat reeds in 1895 gestig is. Dit is nou die oudste staande gebou in die stad. Dit was ook eens gebruik as ‘n krygsgevangenekamp waar Boerekrygsgevangenes aangehou is wat gedurende die Beleg van Mafikeng (1899-1900) deur die Britse magte gevang is. Een van die Boerekrygsgevangenes was ‘n ene luitenant Sarel Eloff, kleinseun van president Paul Kruger.

Padlangs gevind

In Tillardstraat, in die historiese gedeelte van Mahikeng, staan die dorp se eie Vrymesselaarslosie skuins oorkant die ou stadsaal wat nou die plaaslike museum is. Wit geverf met pikswart staalheinings by die straatkant, kan die geboutjie maklik uitgeken word, al is daar maar net ʼn onduidelike padteken langs die straat. Dit lyk eintlik soos ʼn gewone dorpshuis op ʼn erf – so lank dat dit die hele erf beslaan. Dit word nou deur woonstelblokke omring en ook die plaaslike kantoor en die Mormoonse kerk.

Loading
Center map
Traffic
Bicycling
Transit

Behalwe vir ‘n klein geroeste bordjie teen die gebou, sal geen besoeker of verbyganger ooit vermoed dat die losie eens deel van die Britse krygsgevangenekampe gedurende die Anglo-Boereoorlog was nie. Dat een van die kleinseuns van president Paul Kruger in die einste gebou moes bly totdat hy na Kaapstad weggestuur kon word om na St. Helena vervoer te word, is ‘n onbekende feit vir elke siel wat daagliks verby die witgeverfde geboutjie ry of loop. Net die geheime simbool (of is daar dalk verskillende simbole wat net lede kan uitken?) word openlik vertoon.

Die geheimsinnigheid van die Vrymesselaarslosie in Mahikeng strek dus nie net tot die geheime van ‘n “organisasie met geheime” nie. Daar is heelwat meer om uit te vind as net die gewone samesweringsteorieë oor wat agter geslote deure mag, of dalk nie, gebeur.

Mahikeng Vrymesselaarlosie

Deel.

Oor die Outeur

Emile Coetzee is a dosent in Geskiedenis by NWU Mahikeng. Hy is ingeskryf vir sy MA in Geskiedenis by die NWU Vaal Driehoek kampus. Hy het by die Universiteit van Pretoria 'n BA graad (Geskiedenis en Argeologie as hoofvakke) in 2008 voltooi en in 2010 sy BHCS graad in Geskiedenis en 'n Nagraadse diploma in Museum en Erfenisbestuur by dieselfde universiteit gekry. Tesame met sy skryfwerk vir vakjoernale en ander akademiese publikasies, skryf hy ook artikels, resensies en kortverhale vir die breër leserspubliek.

Skryf jou repliek hier