Goedkoop toer deur Europa? So maklik soos een, twee, ses…

0

‘n Paar maande in Europa klink mos glad nie onaardig nie, behalwe vir een klein probleempie: geld. As ons nou eerlik is met mekaar, is die Rand nie die sterkste geldeenheid in die wêreld nie, maar dis glad nie ‘n verskoning om by die huis te bly nie…

Die vrees vir finansiële katastrofe met die terugkomslag na ‘n reis deur Europa, weerhou baie mense daarvan om hulle tasse te pak, maar dis onnodig, want vandag is dit goedkoper om na Europa te reis as ooit tevore. As jy gaan wag tot die dag dat jy genoeg geld het, gaan jy tien teen een nooit ophou wag nie, want hoeveel is “genoeg” geld in elk geval?

As jy wil gaan, kan jy gaan, en dit hoef jou nie ‘n arm en ‘n been te kos nie. Al wat nodig is, is om slim te dink, en goed te beplan. Ek was drie maande lank in Europa, en hiér is hoe ek dit reggekry het.

1. GAAN TUIS BY JOU BESTEMMING SE INWONERS

Die beste manier om ‘n plek te ervaar, is deur sy mense. Hulle ken die geheime juweeltjies, hulle weet waar om te eet en te kuier en hulle skroom selde vir die geleentheid om alles van hulle tuiste met nuwelinge te deel. Mense wat hulle huise oopstel vir reisigers, het oor die algemeen dieselfde temperament. Hulle wil jou laat welkom voel en raad deel, en is tegemoetkomend. Daar is natuurlik die uitsonderings, maar as jy jou gasheer goed kies, gaan jy nie spyt wees nie.

Nie lus vir mense nie? Dan is dié opsie ook goed – net omdat jy in iemand se woonstel woon, beteken dit nie noodwendig dat jy elke uur van die dag saam met hulle moet deurbring nie. As ‘n mens jou navorsing deeglik doen, vlieg alle vrese oor vuil badkamers en gehuggies in donker stegies by die venster uit…

WENKE

Couch Surfing:

As jy regtig platsak is, oorweeg Couch Surfing. Dis ‘n aanlyn-gemeenskap van gewillige huis- of woonsteleienaars wat gratis verblyf aan toeriste bied wat bereid is om op enigiets van ‘n bank tot ‘n bed te slaap, afhangend van wat beskikbaar is. Self het ek dit nog nie probeer nie, maar ek het nog niemand raakgeloop wat ‘n onaangename ervaring gehad het nie. Besoekers kan na die tyd ook komplimente of kritiek lewer wat beskikbaar is vir voornemende gaste.

Airbnb:

As Couch Surfing vir jou dalk te waaghalsig klink, is daar Airbnb. Ek was self aanvanklik bietjie skrikkerig, want sê nou die foto op die webtuiste is gedokter en ek beland in ‘n gehuggie in die een of ander donker stegie… totdat ek dit probeer het! Dis goedkoop en dit werk. ‘n Mens kan maklik wegkom met tussen 20 en 30 Euro per nag, afhangend van jou bestemming, en vorige gaste se kommentaar dien as maatstaf vir goeie of onaangename ervarings.

Vriende, familie en kennisse:

Mense se gasvryheid sal jou verstom… Dit gebeur selde dat mense wat jou ken, jou gaan wegwys. Verder word daar byna nooit van jou verwag om verblyf te betaal of om finansieel by te dra tot die huishouding nie. Hulle is dikwels gretig om jou rond te wys, of uit te nooi na kuiertjies saam met vriende – ‘n puik manier om die plaaslike leefwyse eerstehands te ervaar. Die grootste gedeelte van my eie 3-maande lange reis deur Europa was afhanklik van my vriende en familie se gasvryheid. Sonder hierdie mense sou ek nie die helfte van die ervarings gehad het wat ek nou koester nie.
Maak egter doodseker dat jou gasheer presies weet wat jou doel is – hoe lank jy gaan bly, wat jy wil doen, en hoeveel tyd jy met hulle wil deurbring. Eerlikheid en openlikheid is die belangrikste.

2. SOEK DIE WINSKOPIES

Het jy geweet dat ‘n mens elke eerste Sondag van die maand gratis toegang het tot die Louvre- en die Musée d’Orsay in Parys, of dat daar daagliks gratis staptoere in die stad aangebied word? Het jy geweet jy hoef nie te betaal vir water in Rome nie, omdat jy die water uit fonteine kan drink? In Helsinki kan jy op Woensdae orreluitvoerings in die groot wit katedraal bywoon sonder om te betaal, en in elke Europese stad kry studente afslag by museums of teaters… Die lys gaan aan en aan. Al wat jy hoef te doen, is om inwoners van ‘n stad te raadpleeg, of om rond te snuffel op die web, waar ervare reisigers hulle suksesvolle (en selfs katastrofiese) ervarings deel.

3. WAAR EET JY VANAAND…?

Om uit te eet in Europa, is nie kinderspeletjies nie. Jy is gelukkig as jy ‘n vullende maaltyd onder 10 Euro kry, en dan het jy nog nie eens ietsie om die keel nat te maak nie… Selfs vir die Europeërs is uiteet ‘n duur affêre, so daar is geen rede vir jou om dit elke dag te doen nie.

Supermarkte en kiosks

Bederf jouself so dan en wan, maar as jy wil geld spaar, koop eerder ‘n baguette en kaas by ‘n Franse supermark en eet dit saam met die Franse op die wal van ‘n rivier. Winkelrakke bied dikwels meer interessante en goedkoper alternatiewe, wat ‘n mens in elk geval langer hou. Vars groente en vrugte is verder spotgoedkoop by die Turkse of ander buitelanders se kiosks, en die kwaliteit skiet nie tekort nie.

As jy dan MOET uiteet…

Wees verder slim met WAAR jy uiteet. In Rome is dit byvoorbeeld ongeveer die helfte minder om uit te eet in Trastevere, ‘n bekoorlike woonbuurtjie van die stad, net buite die geroesmoes van toeriste. Doen bietjie ekstra moeite en waag dit ‘n paar blokke weg van die groot bestemmings af, want dis dikwels hier waar die plaaslike inwoners kies om te kuier, en jy gaan die stad se mense op hierdie manier beter ervaar…

4. GEBRUIK BUSSE & VLIEGTUIE

Op die vliegtuig tussen Rome en Munchen.

Vervoer in Europa werk soos ‘n droom, maar dit kan vining in ‘n nagmerrie ontaard as jy nie mooi beplan nie. Veral langafstandtreine en taxis suig ”n mens leeg in enkele minute, en dis iets wat ‘n mens nie aldag kan bekostig nie. Busse, vliegtuie en veerbote is jou voorland as jy nie geld het om te mors nie. Hier is twee van my gunsteling metodes van reis tussen Europese lande.

WENKE:

Langafstandbusse

‘n Duitse vriendin het my voor my vertrek ingelig van die Duitse busdiens, Flixbus. Ek het hoofsaaklik hiervan gebruik gemaak tydens my reis oor die kontinent, en ek was glad nie spyt nie. Elke bus het gratis Wi-Fi, ‘n kragpunt waar jy jou selfoon of skootrekenaar kan laai en bagasievereistes soortgelyk aan dié van die meeste lugrederye. Daar is genoeg beweegruimte, jy kan peuselhappies koop by die bestuurder, en daar is selfs ‘n badkamertjie op die bus. Kaartjies wissel tussen 19 en 35 Euro. Die ses kere wat ek hiervan gebruik gemaak het tussen lande soos Swede, Denemarke, Duitsland en Frankryk, het my altesaam ongeveer R2 600,00 gekos.

Dis egter nie die enigste gerieflike busdiens nie, en dis beslis die moeite werd om navorsing te doen oor bekostigbare dienste op die internet. ‘n Mens ontmoet ook baie interessante mense en kry die geleentheid om die landskap in te drink.

Vlieg

Jy’t reg gelees! As jy kan kies, koop ‘n vliegtuigkaartjie. Dis dikwels baie goedkoper, en praat jy met die Europeërs, is dit iets wat hulle self voorstel. Dis vinnig, gerieflik en goedkoop. Veral Norwegian Airlines of Ryan-Air se vlugte is spotgoedkoop. Ek het byvoorbeeld 30 Euro betaal vir ‘n Norwegian Airlines vlug tussen Stockholm in Swede, en Helsinki in Finland. Verder is daar heelwat aanlyn-agentskappe soos Rome2Rio of Travelstart wat jou help om die goedkoopste kombinasies te kies. Jy kan jou kaartjies deur hulle koop, sonder enige verskuilde koste.

5. OPENBARE VERVOER

Een van die treine wat ek in Frankryk gebruik het om my voorouers se geboorteplaas te besoek.

Een ding wat nie twee is nie, is dat openbare vervoer in Europa werk. Maak wel seker dat jy nie die bus verpas en die verkeerde kaartjies koop nie; dit kan jou duur te staan kom. Hier is ‘n paar wenke:

Dink mooi voordat jy ‘n eenrigtingkaartjie koop – gaan jy weer ‘n bus of trein moet gebruik tydens jou verblyf hier? In verskeie stede het jy die opsie om kaartjies te koop wat geldig is vir ‘n sekere aantal dae, weke of selfs maande. Dis dikwels goedkoper en is meestal geldig vir busse en treine.

Koop groepkaartjies – As julle twee of meer mense is wat reis, koop ‘n groepkaartjie. Dis gewoonlik goedkoper as om apart kaartjies te koop, en word aangedui op die masjiene.
As jy sukkel, vra vir hulp, en praat met die jonger mense – dis nie altyd die maklikste ding om te doen nie, maar as ‘n mens onseker is, VRA. Veral die jonger mense in Europa is Engels magtig, en as jy nie weet waarheen om te gaan of hoe iets werk nie, is hulle dikwels meer as gewillig om vreemdelinge in Engels te help, as die ouer generasie.

Doen navorsing oor die publieke vervoer in die gebied waar jy gaan reis – elke stad of dorp se vervoerstelselsels werk ‘n bietjie anders as die vorige plek s’n. Gaan kyk vooraf watter treine, busse en stad-zones relevant is vir jou reis, sodat dit makliker is om  by die stasieste koop. Jy kan ook kyk watter toepassings gebruik word om die vinnigste roetes te kommunikeer.

Op die Ferry tussen Helsinki in Finland en Tallin in estland.

6. DAAR IS TOEPASSINGS VIR ALLES – GEBRUIK DIT!

Byna elke openbare vervoerstelsel of private vervoerdiens het ‘n toepassing. Veral wanneer mens ‘n toeris is, is dit ‘n maklike oplossing, want dan hoef ‘n mens nie te sukkel met masjiene in vreemde tale, of verkopers wat nie Engels verstaan nie.

Lang Afstande

Spesifieke maatskappye – soos Flixbus of Frankryk se treindiens OUI.sncf – wys jou presies hoe lank jou reis gaan neem, waar jy moet oorklim en by watter stasies of haltes jy gaan stop. Jy kan kaartjies bespreek en betaal deur die amptelike toepassing, dit selfs aflaai op jou slimfoon en die kode skandeer wanneer die kondukteur of bestuurder verbykom. Dis so maklik soos dit.

Alledaagse vervoer

Vir openbare vervoerstelses is toepassings akkuraat tot op die minuut. In byvoorbeeld Duitsland, is daar ‘n toepassing vir elke stad of dorp se vervoerstelsel. Dit wys jou presies watter kombinasie treine en busse jy kan gebruik om jou bestemming die vinnigste te bereik, hoe laat dit kom en hoe laat dit die volgende bestemming gaan bereik.

Dis ook makliker om kaartjies te koop deur middel van hierdie toepassings, omdat dit altyd in Engels is, goedkoper is en die kondukteur of bestuurder net die kode hoef te skandeer.

Voordat jy ‘n stad besoek, loer op die internet watter toepassings gebruik word, veral in Skandinawiese lande of plekke soos Mϋnchen in Duitsland, waar mens nie kop of stert kan uitmaak hoe die vervoerstelsels werk nie.

Deel.

Oor die Outeur

Marlinée is ‘n vryskut joernalis met ‘n passie vir klank en reis. Jy kan haar stem daagliks hoor op RSG se nuusprogramme Monitor, Spektrum en Naweek Aktueel, asook oor die naweek op Reis Sonder Grense. Na vier jaar op kantoor, het sy besluit om haar tas te pak en vir negentig dae deur Europa te reis, en hier by Eensgesind deel sy haar ervarings en nuttige wenke met ons lesers. Sy het studeer aan die Universiteit van Johannesburg, waar sy haar honneursgraad in joernalistiek voltooi het.

Skryf jou repliek hier