Hoeveel oud-Tuisland leiers leef nog?

2

‘n Eksklusiewe Eensgesind-vrystelling

Met die afsterwe van meneer Lucas Manyane Mangope, oud-President van Bophuthatswana, verlede week (op 18 Januarie 2018), is dit dalk nodig om gou ‘n opname te maak van die voormalige tuislandleiers wat steeds met ons is.

Lucas M. Mangope

Meneer Mangope was die enigste verkose leier wat oor die voormalige Bophuthatswana-tuisland regeer het. Sy tuisland het uit sewe gedeeltes bestaan wat in die ou Wes-Transvaal (Noordwes Provinsie vandag), Noord-Kaap en in die suide van die Vrystaat geleë was. Sy dood kondig ʼn ware einde van ʼn era aan, in die gesamentlike geskiedenis van die BaTswana en die Afrikaner. Meneer Mangope is deur die Nasionale Party-regering uitverkies om die beplande tuisland vir die Batswana te regeer, al het die antropoloog P.L. Breutz by die Nasionale Party-regering beswaar teen die keuse aangeteken.

Vlag van Bophuthatswana

Volgens Breutz was Mangope te outokraties omdat hy sommer self  ʼn besluit sou neem wanneer dit hom (of ʼn groter mag) sou pas. Hoewel daar geen amptelike terrein, monument of eers ʼn straat of gebou  na meneer Mangope vernoem is  nie, staan die voorstad van MmaBatho (wat Moeder van die Nasie beteken) as die sterkste herdenking van meneer Mangope se loopbaan en lewe. Sy tyd as president was glad nie rustig en vreedsaam nie. In 1987 het hy ʼn onsuksesvolle staatsgreep deur wyle Rocky Malebane-Metsing gestuit, maar hy moes sewe jaar later die knie buig om Bophuthatswana in die hande van spesiale administrateurs te oorhandig toe die land op pad was na die April 1994-verkiesing. Meneer Mangope het wel later in die Nasionale Vergadering gedien toe sy Verenigde Christelike Demokratiese Party (die hernoemde Bophuthatswana Demokratiese Party) ʼn klein aantal setels in die 1999-verkiesing gewen het. Teen 2012 het sy party hom gevra om die tuig neer te lê.

Kaart van Bophuthatswana

Maar wat van die leiers van die ander tuislande?

Ciskei

Vlag van Ciskei

Hoewel die Ciskei in 1981 “onafhanklikheid”  verkry het, was die gebied reeds deur plaaslike Xhosa sprekende leiers bestuur. Die eerste was Hoofman J.T. Mabandla wat  die gebied van 1972-1973 beheer het. Dit blyk dat hy steeds leef. Die werklike “groot man” in die Ciskei was Lennox Sebe. Hy het die tuisland vanaf 1973-1990 beheer en was bekend vir sy melodramatiese staatsredes. Hy het op 23 Julie 1994 gesterf.

Kaart van Ciskei

Die weermagoffisier wat hom van sy posisie onthef het, was brigadier Oupa Joshua Gqozo wat die Ciskei van 1990-1994 bestuur het. Brigadier Gqozo leef nog, maar ‘n gerug doen die rondte dat hy in armoede buite King William’s Town leef.

 

Transkei

Vlag van Transkei

Wyle President Nelson Mandela se neef was die eerste staatshoof van die Transkei. Kaiser Matanzima het vir tien jaar, van 1976-1986, as die Eerste Minister van die Transkei gedien. Hy is op 15 Junie 2003 oorlede.

Keiser Mantanzima moes  as staatshoof bedank op grond van aanklagtes van korrupsie, maar sy broer George het by hom oorgeneem. George Matanzima moes weer kort daarna die beheer van die Transkei, in Oktober 1987, aan prinses Stella Sigcau oorgee, die einste Minister van Publieke Werke wat in 2006 oorlede is. Brigadier Bantu Holomisa het in dieselfde maand ‘n suksesvolle staatsgreep uitgevoer en beheer van die Transkei oorgeneem tot en met die April 1994-verkiesing. Holomisa is steeds die leier van die UDM (United Democratic Movement) wat vier setels in die Nasionale Vergadering het.

Kaart van die Transkei

KwaZulu

Vlag van KwaZulu

Gedurende die bestaan van KwaZulu het net een man volle beheer oor die stukkies en brokkies gehad waar die Zoeloenasie moes bly. Sy naam was hoofman Mangosuthu Buthelezi.

Deur middel van sy Inkhata Vryheidsparty het hy sy steun in die tuisland gewerf en behou. Sy steun was en is steeds in spesifieke gedeeltes van KwaZulu-Natal so sterk, dat sy party die derde sterkste party in die Suid-Afrikaanse parlement na die April 1994-verkiesing was. Hoofman Buthelezi sal binnekort uit die politiek tree, aldus sy eie voorskrif soos gestel in 2017.

Kaart van KwaZulu

Qwa-Qwa

Vlag van Qwa Qwa

Net soos KwaZulu was daar net een verkose leier wat oor die piepklein tuisland vir die Basotho in Suid-Afrika regeer het. Sy naam was Kenneth Mopeli wat uit die hoofstad Phuthaditjhaba die sake van die Basotho moes behartig , veral nadat besluit is om Qwa-Qwa nie aan Lesotho te oorhandig nie.

Mopeli is op 1 Oktober 2014 oorlede.

Kaart van Qwa qwa

 

Lebowa

Vlag van Lebowa

Die voormalige Transvaal-provinsie het die meeste tuislande gehad. Lebowa was sekerlik die grootste een. Die tuisland was ‘n kort rukkie lank onder die beheer van ‘n ene Mokgana Matlala (van 1972-1973), maar die ware “groot man” van Lebowa was Cedric Phatudi. Hy het Lebowa van 1973 tot met sy dood op 7 Oktober 1987 beheer en sommer gedurende sy eerste dag op kantoor vir Eerste Minister Vorster geskryf dat hy Lebowa se gebied wou uitbrei. Vorster was nie baie gelukkig met Phatudi se skrywe nie, maar mettertyd het Lebowa vergroot. Net soos meneer Mangope, het Phatudi die begeerte gekoester om ‘n nuwe hoofstad vir sy tuisland te bou.

Eers was Seshego die hoofstad, waar die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters, meneer Julius Malema, gebore is, maar teen die vroeë 1980’s was Lebowakgomo die nuwe tuiste van Phatudi se regering.

Na sy dood het ‘n ene Z.T. Seleka as waarnemende staatshoof gedien, voordat Mogoboya Ramadike die leisels oorgeneem het tot met die verkiesing in April 1994. Hoewel dit nie bekend is of Seleka steeds leef nie, is dit bekend dat Ramadike op 3 Mei 2012 oorlede is. Die ANC het Ramadike  as ‘n bondgenoot beskou in die stryd wat hulle  teen die Nasionale Party se Apartheidsbeleid gevoer het.

Kaart van Lebowa

KwaNdebele

Vlag van KwaNdebele

Duskant Pretoria, op die gevaarike Molotopad, was die klein tuisland KwaNdebele wat spesifiek vir die Ndebele-mense in Transvaal gestig is deur middel van die aankoop van 16 plase. Dit is nie alombekend waar in die wêreld die vyf voormalige leiers van hierdie tuisland tans is nie. Navorsing oor hierdie tuisland moet dus  in die nabye toekoms aandag geniet.

Die eerste tuislandleier van KwaNdebele was Simon Skosana wat van 1977-1986 regeer het. Klaas Mtshiweni het  ‘n kort tydjie lank waargeneem totdat George Majozi Mahlangu tot 1989 regeer het. Hy is deur Jonas Masana Mabena opgevolg, wat in 1990 die leisels aan prins James Mahlangu oorgegee het, wat tot 1994 regeer het. Dit sal interessant wees om te verneem of enige van hierdie leiers steeds met ons is. Die stories oor die dae in Siyabuswa as hoofstad en die latere skuif na KwaMahlangu, kan die ervaringe van die mense in hierdie tuisland beter verduidelik.

Kaart van KwaNdebele

Venda

Vlag van Venda

Ten verste noord was die tuisland Venda waar hoofman Patrick Mphephu as die president van die tuisland regeer het. As een van die vier “onafhanklike” tuislande (die ander drie was Bophuthatswana, Ciskei en Transkei), het hoofman Mphephu die vrede so goed as moontlik bewaar  vanuit sy kantoor in die hoofstad Thohoyandou (wat beteken “die kop van die olifant”) tot met sy dood op 17 April 1988.

Sy opvolgers, Orifuna Ndou en Frank Revele, kon glad nie van 1988-1990 orde in die tuisland behou nie en na ‘n suksesvolle bloedlose staatsgreep deur brigadier Gabriel Ramushwana, kon hy van 1990-Januarie 1994 beheer van die tuisland oorneem deur middel van ‘n Raad vir Nasionale Eenheid (met ‘n ene kolonel W. Swanepoel as die Hoof van die Venda Weermag). Ramushwana is op 12 Julie 2015 oorlede.  Vir vier maande gedurende 1994 het Tshamano G. Ramabulana  die tuisland geadministreer tot met die verkiesing in April daardie jaar.

Kaart van Venda

KaNgwane

KaNgwane landswapen

Die enigste tuisland wat nie ‘n unieke vlag gehad het nie, waar wel ‘n landswapen, en wat aan die noordelike grens van Swaziland geleë was om  as tuisland vir siSwati-sprekendes in Suid-Afrika te dien, was KaNgwane. Weer was daar net een “groot man” en dit was Enos Mabuza wat as Eerste Minister van KaNgwane gedien het. Hy is op 13 Desember 1997 oorlede.

Kaart van KaNgwane

Gazankulu

Vlag van Gazankulu

Die tuisland vir Shangaan-/Tsonga-prekendes, wat netjies aan die Kruger Wildtuin gegrens het, was Gazankulu. Hoofminister Hudson Ntsanwisi het die tuisland van 1973-1993  regeer en veral in die laaste jaar voor sy dood op 23 Maart 1993 hom  ten guste van die idee van integrasie uitgespreek. Edward Mhinga het na Ntsanwisi se dood twee weke lank  as waarnemende staatshoof  gedien en is verlede jaar (dus 2017) op 2 September oorlede. Vir die laaste jaar van Gazankulu se bestaan het Samuel Dickenson Nxumalo die staatshoof se kantoor in Giyani beset tot met die April 1994-verkiesing. Nxumalo is die laaste lewende staatshoof van die oud-tuisland Gazankulu.

Kaart van Gazankulu

 

Deel.

Oor die Outeur

Emile Coetzee is a dosent in Geskiedenis by NWU Mahikeng. Hy is ingeskryf vir sy MA in Geskiedenis by die NWU Vaal Driehoek kampus. Hy het by die Universiteit van Pretoria 'n BA graad (Geskiedenis en Argeologie as hoofvakke) in 2008 voltooi en in 2010 sy BHCS graad in Geskiedenis en 'n Nagraadse diploma in Museum en Erfenisbestuur by dieselfde universiteit gekry. Tesame met sy skryfwerk vir vakjoernale en ander akademiese publikasies, skryf hy ook artikels, resensies en kortverhale vir die breër leserspubliek.

2 kommentare

  1. Tuislandleiers – KwaNdebele

    Mnr Z D Mnguni en Mnr David Malatsi is bekend met die geskiedenis en rolspelers van hierdie tuisland. Hulle is beide Afrikaans magtig en ek is seker hulle sal help met detail inligting. Mnr Mnguni was ten tye ‘n minister in die tuisland se kabinet en het na 1994 as Lid van die Parlement gedien.

    Indien julle met hulle wil skakel sal ek graag help.

Skryf jou repliek hier