Namibië se tuislande: ‘n Kort beskrywing

0

Ter opvolging van die vorige artikel oor hoeveel Suid-Afrikaanse Tuislandleiers steeds leef, is dit belangrik om kennis te neem dat Namibië (tussen 1918 en 1990 as Suidwes-Afrika bekend) ook as gevolg van die Nasionale Party (NP) se Apartheidsbeleid, tien tuislande gehad het.

Hoe is dit moontlik?

Na die oorgawe deur die Duitse militêre bevelvoerder in Suidwes-Afrika (Duits-Suidwes tot 1918), genl.maj.  Viktor Franke by Khorab op 9 Julie 1915, moes Suid-Afrika die verowerde Duitse kolonie bestuur. Die Versailles- konferensie het in 1919 besluit om Suidwes-Afrika aan Suid-Afrika te oorhandig met die verstandhouding dat Suid-Afrika die nuwe gebied sal bestuur soos vereis deur die Volkebond se mandaatstelsel.

Viktor Franke (links) en genl. Louis Botha (regs) in gesprek

Die Volkebond (die voorloper van die Verenigde Nasies) het ‘n mandaatstelsel op die been gebring, omdat die lede van die Volkebond geglo het dat die vorige Duitse kolonies hulleself na die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918), nie as onafhanklike moondhede kon bestuur nie. ‘n Meer ontwikkelde moondheid moes kolonies soos Suidwes-Afrika bystaan en administreer. Groot-Brittanje was van mening dat die Unie van Suid-Afrika hierdie taak namens Westminister kon doen. Daar kan dus geargumenteer word dat Suidwes-Afrika die bykomende gebied van ‘n dominium binne-in ‘n globale ryk was. Suidwes-Afrika was dus ‘n Suid-Afrikaanse gebied ter ere van Brittanje.

Suidwes-Afrika (Namibië) en Suid-Afrika onder dieselfde regering.

Dit het beteken dat wat ook al die Suid-Afrikaanse parlement besluit, dit ook van toepassing op Suidwes-Afrika sou wees. Suid-Afrika moes seker maak dat Suidwes-Afrika se infrastruktuur ontwikkel word en die plaaslike owerhede bemagtig word ten einde Suidwes-Afrika stelselmatig onafhanklik van Suid-Afrika te kan maak. Sodra daardie vlak bereik is, sou die mandaat afgeskaf word.

Met die oorname van die Nasionale Party van 1948 was daar geen sprake van die afstigting van Suidwes-Afrika nie. Die Nasionale Party het met sy oorwinning ook beheer oor Suidwes-Afrika gekry en die wetsontwerpe wat in die parlement aanvaar is, sou ook in Suidwes-Afrika geld.

Met die aanvaarding van die 1959-wet vir die bevordering van Bantoetuislande, het min Suidwesters regtig besef dat daardie wet hulle land se politieke landskap sou verander. Gedurende 1963 is Frans Hendrik (“Fox”) Odendaal (voormalige administrateur van Transvaal) aangestel om ‘n kommissie van ondersoek te lei na die toepassing van die 1959-wet in Suidwes-Afrika. Die Odendaalkommissie se verslag is in 1964 aan die Verwoerdregering oorhandig – die sogenaamde “Odendaalplan”. Hierdie plan het bepaal watter swart gemeenskappe ‘n tuisland in die dorre landskap van Suidwes-Afrika moes kry wat hulle stelselmatig moes uitbou; eers tot selfregeringstatus en dan onafhanklikeid.

Waar was die Suidwes-tuislande geleë?

Boesmanland

Boesmanland se vlag

Boesmanland (gestig vir die Sangemeenskap in Suidwes) kan as die “een-jaar”-tuisland beskryf word. Gestig in 1989 en sonder ‘n gevestigde regering, moes die tuisland reeds in Mei 1989 tot niet verklaar word. Netjies belyn met Botswana se westelike grens, was die hoofstad by Tsumkwe.

Posisie van Boesmanland

Damaraland

Damaraland se vlag

Van 1980-1989 het die tuisland Damaraland bestaan. ‘n Sentrale plaaslike regering onder Justus Garoëb het vanuit Khorixas regeer. Damaraland was verklaar vir die Berg Damara wat hulself van die ander gemeenskappe in Suidwes-Afrika afgesonder het. Dit was dus maklik vir die Duitsers en die Suid-Afrikaners om die bergagtige noord-westelike hoek van Suidwes as die gebied vir die Damaratuisland te verklaar.

Posisie van Damaraland

Namaland

Namaland se vlag

In 1980 is ‘n streek vir die Namagemeenskap afgebaken. Staatkundig was Keetmanshoop die hoofstad, maar dit was dalk ‘n soortgelyke geval wat oorlede meneer Mangope ervaar het toe hy Mafeking as sy hoofstad vir die tuisland van Bophuthatswana wou verklaar. Die plaaslike bevolking sou nie graag hul Suidwes-Afrika-burgerskap wou afstaan om Namalanders te word nie. Wat die situasie ook al was, van 1980-1985 was Cornelius Cloete vir Namaland-aangeleenthede verantwoordelik. Hy is deur Daniel Luipert opgevolg en die tuisland is in 1989 tot niet verklaar.

Posisie van Namaland

Rehoboth Basters

Vlag van die Rehoboth Basters

As ‘n mens 90 kilometer met die hoofweg langs van Windhoek af suidwaarts ry, bereik jy die Rehoboth-nedersetting. Vandag noem 30 000 “Basters” dit hulle tuiste, die afstammelinge van die eerste intrekkers wat van Khoisangemeenskappe en vry slawe afstam. Hulle het die Kaapkolonie reeds in 1868 verlaat vir ‘n nuwe heenkome in Suidwes-Afrika (‘n kleiner “Groot Trek”?) Die tuisland het tien jaar lank bestaan (1979-1989) en gedurende daardie dekade was die gemeenskap by Rehoboth (wat hulleself Basters noem) onder die beheer van Hans Diergaardt (wat in 1998 oorlede is). Die Rehoboth Bastergemeenskap het hulleself by UNPO as ‘n minderheidsgroep in die Republiek van Namibië geregistreer om sodoende hulle regte as minderhede te beskerm.

Posisie van die Rehoboth Bastergemeenskap

Oos-Kaprivi

Oos-Kaprivi se vlag

Die tuisland Oos-Kaprivi is hoofsaaklik vir die Lozi-gemeenskap in die Kaprivi-streek uitgelê. Oos-Kaprivi was een van die vier selfregerende tuislande in Suidwes-Afrika (met die ander drie wat hier onder kortliks volg). As die naamlys van die agt verskillende leiers wat eens oor die Oos-Kaprivi regeer het, in oënskou geneem word, kan die afleiding gemaak word dat alles in die hoofstad, Katima Mulilo, nie goed verloop het nie. Kortliks het Oos-Kaprivi vyf voorsitters van die Uitvoerende Raad vir Oos-Kaprivi gehad, waarvan vier blanke Suid-Afrikaners was. Die twee plaaslike leiersfigure wat wel oor die tuisland regeer het, was Josiah Moraliswane (wat twee ampstermyne vervul het: eers as Hoofbeampte van Oos-Kaprivi en toe as Hoofminister van Oos-Kaprivi) en Richard Mamili.

Kaart van Oos-Kaprivi

 Hereroland

Hereroland se vlag

Die tuisland vir die Herero, soos gebaseer op die Odendaalplan, is reeds in 1968 verklaar en het in 1970 die reg tot selfregering gekry. Ses voorsitters van die Uitvoerende Raad vir Hereroland-aangeleenthede het die tuisland vanuit die hoofstad Okakarara bestuur. Die eerste een was die 98-jarige Hosea Kutako wat in 1970 op die ouderdom van 100 jaar oorlede is. Clemens Kapuuo het agt jaar lank na Kutako regeer (van 1970-1978) totdat hy op 27 Maart 1978 doodgeskiet is. Beide SWAPO en die Suid-Afrikaanse regering het mekaar van sy sluipmoord beskuldig. Kapuuo is deur Kuaima Riruako opgevolg wat selfs na onafhanklikheid in 1990 ‘n kampvegter vir die Herero’s en hul regte in Namibië was. Riruako het net twee jaar lank regeer totdat Thimoteus Tjamuaha van 1980-1984 die laaste tydpwerk van kontinuïteit vir Hereroland beklink het. Die laaste vyf jaar is op ‘n aflosbasis deur Gottlob Mbaukua en Erastus Tjejamba regeer, totdat Hereroland in Mei 1989 nie meer bestaan het nie.

Posisie van Hereroland

Owamboland

Ovamboland se vlag

Saam met Hereroland het die Owambo ook ‘n tuisland in 1968 verkry. Die reg tot selfregering is eers in 1973 aan die tuisland gegee. Met die hoofstad by Ondangua het vier leiersfigure die bestuur oorgeneem. Die eerste hoofverteenwoordiger van die Owambo was Uushona Shiimi wat letterlik die grondslag gelê het vir die self-regeringstatus van 1973 af. Hy is deur Filemon Elifas opgevolg wat tot 1975 Hoofminister was. Cornelius Thuhageni Njoba het as Hoofminister en later tot 1980 as Voorsitter van die Uitvoerende Raad vir Owamboland-aangeleenthde gedien. Hy is in 1982 oorlede. Daarna het Peter Kalangula Owamboland tot 1989 bestuur. Hy is in 2008 oorlede.

Posisie van Ovamboland

Kavangoland

Kavangoland vlag

In 1970 het ‘n tuisland vir die Kavango-gemeenskap gevolg. Tesame met Owamboland het dit in 1973 die reg tot selfregering ontvang met die tuisland se regering geleë by Rundu. Linus Shashipapo het Kavangoland van 1972-1977 bestuur met Alfons Majavero wat hom opgevolg het tot 1981. Tot Mei 1989 het Sebastiaan Kamwanga Kavangoland beheer. Kamwanga is in 1999 oorlede.

Kaart van Kavangoland

Kaokoland en Tswanaland

Beide Tswanaland en Kaokoland het die ou Suid-Afrikaanse vlag gebruik as hul eie.

Twee tuislande in die ou Suidwes wat nie hulle eie vlae gehad nie, was Kaokoland en Tswanaland. Net soos KaNgwane in Suid-Afrika het hierdie twee tuislande die ou Suid-Afrikaanse vlag gebruik.

Tswanaland was maar ‘n klein stukkie grond, uitgelê as ‘n vierkant, netjies langs die Botswanagrens. Tswanaland was dus vir Suidwes soos wat Qwa-Qwa vir Suid-Afrika was, nl. ‘n tuisland wat dalk met die buurstaat kon saamsmelt. Net een leier het Tswanaland van 1980-1989 bestuur. Constance Kgosiemang het uit die hoofstad Aminuis regeer. Hy is in 2012 oorlede.

Kaart van Tswanaland

Laastens was daar Kaokoland wat in die verre noordwestelike hoek van Suidwes-Afrika geleë was. Die tuisland is in 1970 vir die Himba-gemeenskap verklaar wat die streek hulle tuiste genoem het. Dit blyk dat ‘n behoorlike regering nie vanuit die hoofstad Upuwo op die been gebring kon word nie. Natuurlik kan dit wees as gevolg van die konfrontasies in Kaokoland gedurende die tyd van die Suid-Afrikaanse Bosoorlog (1966-1989). Hoewel hierdie tuisland ook in Mei 1989 tot niet verklaar is, bly die naam Kaokoland steeds die algemene verwysing vir die streek.

Kaart van Koakoland

Dit is duidelik dat die Nasionale Party se apartheidsbeleid verder gestrek het as net Suid-Afrika. Dit impak van daardie beleid kan nog gesien word in ons buurstaat Namibië. Maar net soos met die Suid-Afrikaanse tuislande is daar nog baie stories om na te vors en te staaf oor die ervaringe in die ou tuislande van Suidwes-Afrika (tans Namibië). Dit skep natuurlik vele geleenthede vir enige belangstellende student of gesoute historikus om verdere navorsing oor te doen.

Grafiese voorstelling van die Odendaalplan

 

Deel.

Oor die Outeur

Emile Coetzee is a dosent in Geskiedenis by NWU Mahikeng. Hy is ingeskryf vir sy MA in Geskiedenis by die NWU Vaal Driehoek kampus. Hy het by die Universiteit van Pretoria 'n BA graad (Geskiedenis en Argeologie as hoofvakke) in 2008 voltooi en in 2010 sy BHCS graad in Geskiedenis en 'n Nagraadse diploma in Museum en Erfenisbestuur by dieselfde universiteit gekry. Tesame met sy skryfwerk vir vakjoernale en ander akademiese publikasies, skryf hy ook artikels, resensies en kortverhale vir die breër leserspubliek.

Skryf jou repliek hier