Vlieënde Suid-Afrikaners: Waar het dit begin? Deel 1

0

In die historiese begraafplaas van die Noordwes provinsie se hoofstad, Mahikeng, lê Suid-Afrika se suksesvolste Eerste Wêreldoorlog-vegvlieënier begrawe. Sy naam was Andrew Beauchomp-Proctor en hoewel sy grafsteen bo sy medebegraafplaasbewoners uittoring, is sy merkwaardige storie net so “onbekend en onbesproke” soos die algemene geskiedenis van Suid-Afrikaanse lugvaart. Eensgesind het dit goed gedink om vir die volgende maand, of so tweeweekliks ‘n storie oor van ons mees geëerde vlieëniers te publiseer. Maar eers is dit belangrik om te kyk waar ons assosiasie met lugvaart vandaan kom. Hiermee die eerste van twee artikels oor Suid-Afrikaners wat probeer vlieg het nog voordat die Wright-broers dit reggekry het.

Die graf van Andrew Beauchomp-Proctor, Suid-Afrika se “Ace” gedurende die Eerste Wêreldoorlog

  1. Sweef soos ‘n arend?

In sy boek, Vlieghelde van Suid-Afrika, vertel Arthur Blake die merkwaardige verhaal van John Goodman Household, of Jack Goodman Household, soos sy familie hom genoem het. Household is in 1846 in Engeland gebore, maar het in Natal grootgeword. Van sy kinderdae af was hy gefassineerd met masjinerie en het elkeen noukeurig bestudeer. Op ‘n dag in 1875 het hy deur die Karkloofvallei gestap en die swewende roofvoëls bo hom aandagtig bestudeer.

Krans by die Karkloofvallei, KwaZulu-Natal

Soos ‘n ware Icarus van ouds het hy toe vir homself ‘n plan beraam. Hy sou ‘n beesvel oor ‘n houtraam trek en vir hom ‘n paar vlerke maak. Nodeloos om te sê, sy probeerslag om te vlieg, was onsuksesvol. Hy het nogtans nie tou opgegee nie. Nadat hy al sy gevolgtrekkings aan dr. Colenso, die bekende teoloog, bekendgemaak het, het hy die plan gemaak om liewers ‘n struktuur te bou waarmee hy op die warm lugstrome kon sweef. Met die hulp van sy broer, Archer, en ‘n paar Zoeloe-handlangers het hulle die een prototipe na die ander uitgetoets, totdat Jack sukses behaal het met ʼn sweeftuig wat die hoogte van 160 voet bereik het, nadat dit van ʼn krans gelanseer is. Tydens landing is elkeen van sy sweeftuie  vernietig. Sy familie was so ongelukkig met sy pogings, dat hulle hom verbied het om ooit weer te probeer vlieg.

John Goodman Household

Dalk is Jack Goodman Household se storie maar net ‘n legende wat “tussen die manne” om ʼn kampvuur vertel kan word, want die bronne om dit te bewys, is maar yl gesaai. Dit word vertel dat Jack Goodman Household die gebreekte stukke van sy laaste sweeftuig op die solder van sy ouerhuis gebêre het en toe die plaas verkoop is, het die sweeftuig se stukke spoorloos verdwyn.  Die nuwe eienaars het dit dalk weggegooi of verbrand. Jack Goodman Household is in 1906 op die ouderdom van 60 jaar oorlede. Indien sy sweeftuigstorie waar is, dan sou hy verseker Otto Lilienthal se baanbrekerpoging van 1895 maklik met twintig jaar voorafgegaan het. Maar, hy sou wel nie vir sir George Cayley voorgespring het nie – hy het reeds in 1849 ʼn sweeftuig gebou wat ʼn paar treë by Brompton Hall gesweef het, met ʼn tienjarige seuntjie as die vlieënier.

  1. Opgeblaas soos ‘n ballon…

Wanneer dit kom by gasgevulde ballonne vir die doel om ‘n landskap te bespied of om ‘n kort afstand te sweef, kan Suid-Afrika moontlik die jaar 1810 noem as die eerste poging van iemand in Suid-Afrika om ‘n ballon te maak. Die eer gaan aan ‘n Franse krygsgevangene aan die Kaap wat bekend gestaan het as Christobal Daguerre. As ʼn moontlike stokperdjie om die eensame ure van gevangenisskap te verwyl, wou hy graag self ‘n ballon maak. Om sy hartsbegeerte te vervul, moes hy eers toestemming van die Kaapse Goewerneur vra, maar laasgenoemde het dit dadelik afgekeur. Waarom sou ‘n gevangene ‘n ballon wou maak?, het die Goewerneur homself dalk afgevra.

Die 18de Desember 1814 is dus waarskynlik die eerste dag toe ‘n poging aangewend is om in Suid-Afrika na ʼn spesifieke punt te vlieg. ‘n Ene meneer Coussy het op daardie dag in Kaapstad sy ballon laat opvaar, maar hy was nie self aan boord nie. Hy het ‘n kat saam met die ballon opgestuur.

Ballonne is reg deur die 19de eeu gebruik om skares gedurende plaaslike skougeleenthede te vermaak. Waaghalse, elkeen met sy eie vermaaklike storie, soos Charles Goodall, “Professor” Price en “Professor” Isidore Michaels, het in hul selfgemaakte ballonne opgestyg en dan in sekere gevalle ‘n valskermsprong uitgevoer. Goodall het in 1892 verongeluk toe ‘n sterk wind sy ballon teen ‘n koppie vasgewaai het. Michaels het in ‘n dam verdrink toe sy ballon buite beheer geraak het. Price het eendag geweier het om ‘n vlug  gedurende ‘n stormagtige dag te waag. Hy was gelukkig om lewendig uit Kaapstad te kom toe hy nie die skare se geld wou teruggee nie! 

Wanneer dit kom by ‘n Suid-Afrikaner wat vir die eerste keer  in die buiteland gevlieg het, kan ‘n mens verseker Staatspresident Paul Kruger se ervaring in Parys noem. Gedurende die Transvaalse deputasie na Parys in 1879 was Kruger deel van die 35 000 passasiers wat oor die verloop van die Paryse Internasionale tentoonstelling deur Henry Giffard se ballon in die lug opgeneem is. Daar word vertel dat die president die mening uitgespreek het dat die ankerkabel geknip moet word, sodat hy met die ballon terug Transvaal toe kon sweef.

Henry Giffard se Ballon

Gedurende die Anglo-Boere oorlog (1899-1902), het ballonne meer probleme vir Kruger en sy kommando’s veroorsaak as die plesier wat hy in Parys met een beleef het. Veral toe Kruger verneem dat een van die Britse balloneenhede op die Natalse grens teenwoordig was, het die opdrag die rondte gedoen dat elke telegrafis op die uitkyk moet wees vir enige ballon wat stadig verby hulle op pad Pretoria toe sweef. Kruger het gevrees dat die balloneenhede die hoofstad kan bombardeer. Die instruksie moes later teruggetrek word, omdat telegramme by die dosyne Pretoria toe gestuur is ivm enige vreemde verskynsel wat Oos-Transvalers opgemerk het.

Britse gebruik van ‘n ballon gedurende die Anglo-Boere Oorlog (1899-1902)

Gedurende die veldslae by Magersfontein (11 Desember 1899) en Paardeberg (gedurende Februarie 1900) het Britse bespieders genoegsame inligting na bevelvoerders gestuur om die aanval op die Boere se verdedigingslyne te loods. Gedurende die oorlog se tweede fase van guerrilla-oorlogvoering, was die ballon nutteloos en moes maar in die Britte se stoorkamers weggepak word. Die Transvaalse regering het wel die staatsingenieur, J.H. Munnik, voor die uitbreek van die Anglo-Boere oorlog gevra om ʼn ballon vir krygsdoeleindes te vervaardig. Indien dit gedoen is en indien die ballon ooit gevlieg het, is onbekend, maar Munnik kon £224 uit die tender maak.

Wat was toe volgende?

Na die oorlog het spesifieke Suid-Afrikaners saam met ander buitelandse lugvaartpioniers gewerk om die ontwerp en gebruik van vliegtuie te herdink. Veral John Weston word gesien as Suid-Afrika se eerste ware vlieënier, maar daar was ook ander mense wat ‘n rol gespeel het wat vermeldenswaardig is. In die opvolgende deel sal meer hieroor vertel word.

Deel.

Oor die Outeur

Emile Coetzee is a dosent in Geskiedenis by NWU Mahikeng. Hy is ingeskryf vir sy MA in Geskiedenis by die NWU Vaal Driehoek kampus. Hy het by die Universiteit van Pretoria 'n BA graad (Geskiedenis en Argeologie as hoofvakke) in 2008 voltooi en in 2010 sy BHCS graad in Geskiedenis en 'n Nagraadse diploma in Museum en Erfenisbestuur by dieselfde universiteit gekry. Tesame met sy skryfwerk vir vakjoernale en ander akademiese publikasies, skryf hy ook artikels, resensies en kortverhale vir die breër leserspubliek.

Skryf jou repliek hier